Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 7

HOOFSTUK 4

Оглавление

Enkele maande voor 11 Oktober 1899, die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, is Vilonel ’n bedrywige man. Die wit langmouhemp, onderbaadjie, das en kruisbande help nie juis om die hitte draagliker te maak nie. Sy baadjie hang aan ’n houthanger agter die deur.

Tyd? Hy lig die kettinghorlosie aan sy onderbaadjie. Eenuur, volgens die silwer-Waltham, ’n geskenk van die krieketklub vir sy ontwikkeling van dié uitheemse sport op Senekal. Sy voorkop is effens klam en hy druk met sy sakdoek daarteen; buite in die stofstraat is dit selfs nog warmer.

Sy klante meld een vir een volgens afspraak aan.

Al is dit hoogdag, is dit halfskemer in die kantoor. Die hortjies laat min lig in. Oorlogspraatjies. In die strate, die hotel en voor die kerk. ’n Mens kan jou nie doof hou daarvoor nie, dit volg jou oral. Daarom sukkel hy om sy aandag by sy werk te hou. Die klagtes waarmee die mense by hom aankom, lyk vir hom in hierdie dae ook al hoe onbenulliger.

“Die Brandsiekwet, oom Lelik Piet. Jou bure móét hul skaap dip; dis hoe die wet sê. Kant en klaar.” Vroegdag was dit al bedompig, asof daar iets aan’t woel is. Behalwe die boer se voorkop wat deur die hoed se rand beskerm word, is hy bruin gebrand en wrewelrig oor die velsiekte wat onder sy skaaptrop kom kop uitsteek. “Ek sal die bure verwittig,” sê Vilonel en staan op. Dis die einde van die diskussie. Toe oom Lelik Piet uitloop, bly hy in die kantoorlug agter – sweet en plaas en beneuktheid.

Op Vilonel se lessenaar lê pakke papier: ’n onenigheid oor weiding, grensdrade en kooptransaksies wat skeefgeloop het. Agterstallige huurgeld. Hekke wat kwaadwillig oopgelos word. Of is dit net agtelosigheid? Die getwis tussen die boere sal nooit ophou nie. Daarom het hy die praktyk. Transportaktes is minder werk en meer lonend. Maar laat hy nou nie met die witbrood onder die arm staan en kla nie. Die jaar het hom tot dusver skaflik behandel.

Hy kyk in sy dagboek – die springbok se vel waarmee dit oorgetrek is, het hy nog naby Victoria-Wes op Daantjie Black se plaas geskiet. Daar in die bossieveld waar die ramme so pronkerig uitgroei. Tik-tik op die lessenaar met sy middelvinger, tik-tik. Hy is nie net by sy kantoor betrokke nie. Senekal se veldkornetskap val in die Winburg-distrik.

Maar die volgende klant is reeds voor die deur.

“Daar het ’n nuwe mark geopen,” adviseer Vilonel. Die hitte wil steeds nie breek nie. Die man sit in stille afwagting voor hom. “Hoekom meen jy het mister Clarke nou net ’n rasegte herefordbul teen ’n duisend pond ingevoer? Moenie op trekdiere allenig peiltrek nie; slagvee is die toekoms.”

Sy laaste klant vir die dag is ’n nuwe intrekker op Senekal. Hy het sy plaas in die Suid-Vrystaat verloor en verlang nou om sy vee hier op die dorpsweiveld aan te hou. ’n Koppige man, klink dit; al sien hy daar armlik uit. Eintlik is dit net die bars kyk in sy oë wat hom nog staande hou. Vilonel takseer die man ’n wyle in stilte. Hier gaan staan en kyk die vent hom wrintiewaar aan asof hy hom ’n oorkonkel wil gee.

“Dis reg so, as jy ’n eienaar of bewoner van een of meer dorpserwe is, mag jy vyf-en-twintig stuks grootvee en veertig stuks kleinvee aanhou,” verduidelik hy die prosedure vir die tweede keer.

“Maar oom Koot Willemse hou dan dubbel soveel aan. Is dit regverdig? Hoekom word algar nie oor dieselfde kam geskeer nie?”

“Luister nou mooi vir my. Dit is twee verskillende sake. As slagter het Willemse ’n liksens; daarom is hy geregtig op baie meer. Net so is daar spesiale permissie vir transportryers en persone wat met vee trek.”

Vilonel stoot sy stoel terug en kyk weer op sy horlosie. Eintlik het die man nou net sy tyd kom mors. Die afspraak het langsamer gegaan as wat hy voorsien het. Hy voel half vieserig oor die hele affêre. Nodeloos. Dan is dit asof hy opeens ’n stemmetjie hoor fluister. So wrintig, hoor hy reg? Hoe kan hy nou gaan toelaat dat persoonlike gevoelens in die pad van ’n saketransaksie staan? So by tweede denke lyk die saak sommer heel anders. Laat die man gerus met ál sy oorblywende vee hier opdaag – elke enkele bees en skaap.

Dis dalk net sy kans om skoonskip te maak! Kontant – dit is wat hy die man aanstons gaan aanbied om hom te verlos van sy grasprobleem. Moet hom nou nie voortydig in sy hardkoppigheid loop stuit nie. As hy dan nou steeds nog met te veel vee hier aangesit wil kom, goed dan só. Los hom, laat hy hom selwers hier kom vasloop. Hier het nou ’n kans gekom om groot te skep. Wragtag, mens moet maar altyd wawyd wakker loop deur die lewe. ’n Geleentheid lê dikwels waar jy hom die minste verwag; Vilonel vryf met sy duim en wysvinger oor sy ken onderwyl hy deur die venster kyk.

Hy moet juis tyd inruim om ’n draai op De Rust te maak. Sy plaas is goeie ranteveld met vlaktes en valleie. Angorabokke? Hy is nie so seker daarvan nie. Bees en skaap is tog bekender. Hy sal daardie wit angorabok nog eers ’n slag moet oordink, al vertel almal deesdae hoe goed hulle in die ranteveld aard.

Terwyl hy opstaan, is daar onverwags stemme in die voorportaal. Juffrou Du Toit Luttig, vergesel van haar vader. Eers wil Vilonel hulle vriendelik wegwys, maar daar is tog ’n potloodinskrywing in die dagboek.

Haar familie gaan Kaap toe versit en die testamente en verblyfreg moet in orde gekry word. Die trekkery het heelwat regsimplikasies vir die gesin. Die saak is skynbaar reeds deeglik by die huis uitgepluis, want juffrou Du Toit Luttig gee kwalik aandag aan die gesprek. Sy laat haar vader al die praatwerk doen en kyk na die portrette en sertifikate teen die muur.

’n Goed versorgde nooi, aangetrek of sy Nagmaal toe gaan. Wanneer sy omdraai van die muur, maak haar oë kontak met Vilonel s’n. Sy kyk weg, maar nie dadelik nie. Haar vader maak of hy niks raakgesien het nie. Die dik bruin vlegsel is netjies op haar kop vasgesteek. Donker oë, rosige mond en ’n slank, oop nek. Toe sy op een van die stoele teen die muur gaan sit, is dit met haar leerskoene netjies langs mekaar.

Vilonel loop saam met hulle voordeur toe en sluit dit agter hom. Juffrou Du Toit Luttig lyk nog glad nie haastig nie. “So, dan kom ons volgende week die dokumente onderteken.” Hier buite in die sonlig is sy meer spraaksaam. Sy glimlag. “Dit was ’n plesier om met u sake te doen, mijnheer Vilonel.”

Hulle groet en terwyl sy so netjies en regop wegstap, verbeel Vilonel hom sy weet hy kyk haar agterna. Sy kyk nie een keer om nie, maar daar is gewis iets in daardie stap.

Die dag is verby. Eintlik wil hy uitry De Rust toe om na sy perde te gaan kyk – aan dié is hy teder verknog. ’n Volbloed vra nog altyd heelwat meer aandag as ’n gewone veeperd. Met die jaar wat aanstap, lê November om die draai en dan sal die merries begin vul. Wie weet? Daar wag altemits ’n verrassing. Straks het daar al een of twee vullens aangekom. Dié gedagte neem sy aandag van die kantoor af, dit maak sy tred ligter.

Aan die Rand is goud ontdek en al wat die Senekallers nog daarvan gesien het, is die stringe waens wat deur die dorp trek. Tot sestig op ’n dag! Dit is die meeste wat hulle al op een slag getel het. ’n Aardigheid. Tog word die lewe hier steeds deur die natuur voorgeskryf. Soms is dit warm en soms koud. Dis of daar ’n gelatenheid heers – die Voorsienigheid sal sorg.

In 1883 en 1884 neem die boere klaend maar gedienstig genoeë met die Groot Droogte. Saad moet self ontkiem; besproeiing is menslike ingryping. Maar darem nie sonde nie. Sommige weier ook om die sprinkaanswerms uit te delg – dit is ’n plaag deur God gestuur. Hoe dan anders? Een boer neem nietemin die voortou en roei sestien swerms op sy plaas uit.

Buite die dorp word ’n windmeul opgerig wat met gemak ’n krieketveld kan besproei. Die voorste kerkmense lig hul wenkbroue.

“God help dié wat hulself help.” Dit is hoe Vilonel onvermoeid die woord op die streeksrade voer.

Met Nagmaal kom bly die ryk boere in hul dorpshuise terwyl die ander op die kerkplein kamp. Tussen die tente is die jolytmakery. Dit voel eerder soos iets tussen ’n kerkbasaar en boeresport. Hygend hert, van die jongmense vergeet heeltemal dat hulle hier is vir geloofsake! Kattemaai? As jy ooit die kat in die donker wou knyp, is daar nie ’n beter kans as reg onder die predikant se neus nie.

Die winkels maak vroeg oop en laat toe: saals, tooms, medisyne, veral die netjiese kissies Lennon-botteltjies, negosieware, materiaal en hoede. Heelwat sout, koljander, asyn, peper en meel. Die vroue moet beskuit bak en biltong maak vir die saalsakke.

Sennett se winkel met sy lekker kuierstoep is die groot trekpleister. Oor ditjies en datjies word daar gesels. Dan is daar Hirshon wat al as die “merchant prince” van Senekal beskryf is – meubels en plaasimplemente. Om van C. Marcus se onderneming nie te praat nie; geen siel stap daar verby sonder om in te loer nie. “Welkom, welkom!” nooi hy die mense sommer van die straat af in.

In die feestelikheid steek die boere die hand dieper as gewoonlik in die sak. Geen huisdraklere is te siene nie; die vroue het almal hul beste tabberds aan wat dae voor die okkasie al geruim of ingekort is. ’n Oor-en-weer-gekuier in die dorpstrate met almal wat strykdeur in mekaar bly vasloop. “My mintag, wat is my verbasing groot!” Met dié geterg gaan die mans wat mekaar lanklaas gesien het, gou-gou loer of die perde voer het. Maar hulle gaan nie by die latrine in nie. Nee wat, dis net ’n verskoning om kroeg toe te glip vir ’n sopie jenewer. Dan keer hulle met ’n pienk ouderlingpilletjie onder die tong terug.

Senekal had al drie dranklisensies. Maar die sedebewakers se neuse is skerp. ’n Mens kan dinge darem nou nie te ver gaan staan en druk nie. Drankgebruik is een van die sondes wat aan meer as een inwoner krap. Die jongmense en die laataanddanse by die South Africa Hotel!

Vilonel het hom nog altyd verstom aan die oorgawe waarmee mense in hierdie dorpie op dinge gereageer het. In 1882 het sestig mense spontaan ’n eed gesweer om nie ’n druppel sterke drank oor hul lippe te neem nie. “So help my God!” Nou is dit weer dieselfde gramskap oor die jongmense. Waar is mijnheer Schreiner en mevrouw Stuart nou om die spul attent te maak op die brassery?

En dit tydens Nagmaalweek. Die duiwel is listig en versoek alle mense. Weet dit nou gewis, van kroeg tot kerk, sleep Satan sy vlerk.

Van dié praatjies weet Sarel Breedt min. Hy vorder nie veel verder as die armdruk-tafel nie. Hier is hy in sy domein. Sweet pêrel op sy dik bolip terwyl hy die een jongman ná die ander se voorarm plat druk.

“Volgende!” grinnik hy.

Niemand sien regtig meer kans nie. Die pret lê vir Sarel Breedt nie in die oorwinning nie; dit lê in die marteling wat hy toedien. As hy jou eenmaal in sy greep het, weet hy hoe om jou gal te werk.

“Hoe lyk dit oom Lelik Piet?” terg die omstanders.

“Ek maak my nie bespotlik nie!” vervies hy hom.

Breedt se vrou, Gertruida, staan by die vroue. “Die Sarel darem, maar ek sal lieg as ek sê dat hy al ’n hand teen my gelig het.”

Op sedelike gebied gaan dit nog redelik goed. So meen die bewakers. Daar is konserte met vioolspel, sang en voordrag – ofskoon dit nie alles so stigtelik gegaan het soos die oueres dit wou sien nie. In die komende jare gaan die bewakers selfs nog bedrywiger word; hulle weet dit nog net nie. Doomnies Paul Roux sou hom weldra uitspreek oor ’n hele paar sondes. In die toekoms gaan die Sewende Gebod stellig ’n dringende diskoers noodsaak.

Net laas jaar nog het hy die gemeente, sonder om doekies om te draai, oor lui gewoontes voor stok gekry. Ledige huisvroue wat nie die minste ag op hul huishoudings gee nie. ’n Preek wat ’n byna ongelooflike uitwerking op die trae hande en slappe knieë gehad het. Ook die mans het onder sy tong deurgeloop. Binne ’n korte tyd was daar geen stukkende dak meer op ’n huis te kry nie en geen vurk wat nie blink geskuur was nie.

Die voorgenome spoorlyn bly egter vir party Senekallers ’n euwel omdat dit ongewenste vreemdelinge na die dorpie sal lok. “En hoe gemaak met onse trekosse en perde?” murmureer die boere. “Pryse gaan oornag tot minder as ’n duit val! Net soos dit is, trek algar reeds noustrop.”

Ewenwel kan die spoorlyn addisionele belasting op hulle afdwing. ’n Oor-en-weer-stryery op vergaderings waarin ’n oom van tagtig dreig om te skiet op wie ook al die Spoorwegwetgewing sou goedkeur. “Mark my words,” sê hy op Engels sodat sy dreigement meer gewig dra.

Toe die spoorlyn ná baie beraadslaging uiteindelik op ’n ander roete gebou word, is die boere oudergewoonte kwaad vir die Volksraad. “Die Witwatersrandse mark? Waarheen dan nou?” Vilonel het mos gesê boerderyprodukte kan per spoor sneller anderkant uitkom as met trekosse. Kyk nou net waar sit hulle ná al die dwarstrekkery.

“En koop by jou eige mense!”

Die gemeenskap bly agterdogtig jeens smouse. Het die Volksraad dan nie self ’n verbod ingestel op die migrasie van Indiërs nie? Hulle gaan verkoop derderangse graan in die Transvaal en vertel dat dit van die Vrystaat kom. “Wat ’n vermetelheid!” Die wolboere het ook ’n dringende kwessie op hande. Op die uitvoermark word hul wol gemerk as afkomstig uit die Kaap of Natal, onderwyl die swakke wol as Vrystaatse wol verkwansel word. Nee, die swendelary wat so kop uitsteek, gee hul kontrei ’n slegte naam.

Op enkele uitsonderings na bring die boere tog langsamerhand die kloutjie by die oor rakende die Brandsiekwet. Hulle dip hul skaap meer gereeld. Dit is weer Vilonel wat die woord voer. “Voorsorg is tog beter as nasorg!” Punt vir punt sit hy die regsaspekte vir hulle op die vergaderings uiteen. Wie ken die saak beter? Is hy dan nie ’n boer wat met tye al selwers die ploegstert vasgehou het nie? Sy grappie hou hy vir die afsluiting van die diskussie. “Regskoste en prokureurs word teenswoordig al hoe duurder. Só, gaan prosedeer gerus maar jou buurman oor ’n baadjie en hou jou broek vir die hofonkoste!”

En naamgewing en verenigings – die Senekallers is nou eenmaal vol draadwerk hieroor. Nie droogte of reën sal dié neiging uit hulle uitkry nie. Sodra daar ’n kwessie opduik, stig hulle ’n organisasie. Byna of die skep en samestelling van ’n raad goedgemaak het vir die min geselskap op die platteland. Dit klink ook meer vernaam as die vereniging boonop ’n Ingelse naam het. Die Wool Improvement Society word terstond in die lewe geroep om veral die moontlikheid te ondersoek dat kruisteling van skape ’n beter gehalte wol kan produseer.

Dit alles beteken meer papierwerk en inkomste vir Vilonel – ’n vereniging wat nie behoorlik op skrif genoteer is nie, is nie ’n erkende vereniging nie. Ná elke stigtingsvergadering maak die pas verkose voorsitter eers ’n draai by die regsman se kantoor om sy organisasie amptelik verklaar te kry. Só kry hy terselfdertyd iets om oor terug te rapporteer by die volgende sitting.

Brandwaterkom

Подняться наверх