Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 6
HOOFSTUK 3
ОглавлениеOm helder te kan sien, moet jy fyn in die verlede in kan kyk en jou oog skerp op die toekoms instel. Dis hoe ek wat Catharina Venter is, nog altoos sê.
Neem nou maar hierdie jongvrou van Bloemfontein. Sy stap oral hier in die klowe rond en staan en krap in die as van ons grotvure. Dis wat sy hier kry wat vir haar die pad vorentoe wys, elke keer. En waarheen is dit? Druipstert na daardie prokureur Vilonel toe. Baie keer as ek haar so op ’n afstand sit en betrag, dan dink ek: Hierdie stadsnooi wil haar toekoms sowaar in die verlede gaan kry.
Hier vanuit die kranse kan ek ver sien. Tot doer in die begraafplaas in. Daar sien ek haar ook. Kwansuis om my skoonvader se graf te soek. Nie dat sy hom gaan kry nie, nee dit sil nie gebeur nie. W.D. Venter is die naam. Maar daardie kerkhof gaan wel vir haar iets beteken. Dis nie om dowe neute nie.
As ek my voorgevoel reg lees, is dit juis daar waar die nooi van Bloemfontein haar in die vreemdeling gaat vasloop. Wat sy nering is, wis ek nie. Nog minder wat hy op haar pad gaan bring.
Sy sal nog so tussen die grafte deur drentel, dan staat die man opeens reg langs haar. Nee, sy sal nie van hom weet nie, eers as hy kug, sal sy omkyk en hom gewaar. Beslis nie die heer Vilonel nie.
Dit gaan iemand uit die hedendaagse wêreld wees wat sy eie planne met haar smee. ’n Belese vrou is sy gewis. Tog het ek my bedenkinge of sy deur sy slenter gaat sien. Ek is selwers dan nog aan’t raaie.