Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 12

HOOFSTUK 9

Оглавление

My ore was ysig koud toe ek van buite af terugkom in die huis. Die MP3 het steeds gespeel. Ek het uitgetrek, in die bed geklim en die kussings onder my kop reggetrek. Die lug om my was gevul met katedraalmusiek. Die musiekspeler sou deurspeel terwyl ek aan die slaap raak.

Op die bedkassie langs my was kamilletee om my lomerig te maak. Daar was ook die groot lêer met Vilonel se naam op. Die angstigheid wat ek netnou ervaar het, was weg. Ek het my hand uitgesteek en deur die aantekeninge geblaai.

Die stof het my brein, wat al begin afskaal het, opnuut wakker gemaak. Met die laaste slukkie tee wou ek amper weer vir my skink. Maar ek het die bedlampie afgeskakel.

Om aan die slaap te raak, was ’n ander saak. Daar was ’n tekortkoming in my werk. Ek moes vir Vilonel ’n jeug skep, kinderdae. Dis waarvoor die studie nou gevra het. Maar waar kry ek dit?

Die bronne in my besit se rapportering oor hom begin wanneer hy reeds volwasse en klaar op Senekal gevestig is. Die leser sal beslis meer wil weet. Hy is tog nie deur ’n onsigbare hand daar geplaas nie. Om sy karakter geloofwaardig te maak, sal mens iets van sy vorming moet weet, selfs al is dit gering.

Wat het Vilonel gebring waar hy is? Was daar dryfvere in sy kinderjare wat aanleiding gegee het tot sy latere optredes? Het hy enigsins verskil van ander skoliere op die Vrystaatse platteland? Sonder enige agtergrond oor hom kan hy maklik as ’n onthoofde mens in my projek voorkom. Iemand sonder wortels of geskiedenis wat uit die niet op my lessenaar beland het.

So het die tyd verbygegaan. Ek het nou al so lank met Vilonel saamgekom dat ek my soms verbeel het dat ons in gesprek was. Dat hy soms net by my huis opgedaag het. Die eerste keer het hy reg in die kombuisdeur gestaan, lewensgroot. Ek het half orent gekom, gestotter: “Meneer Vilonel, hoe spreek ’n mens u aan?” Ek moes oor my skrik kom. Alles was te skielik, dalk het hy effens geknik, ek weet nie, maar my woorde het toe sommer vanself gekom. “Sommige bronne verwys bloot na u as ‘X’. U is bewus hiervan. En die spelling: Vilonel of Vilionel? Van Hollandse afkoms? U was nog altyd presies met papierwerk. Iets soos korrekte spelling sou dus van groot belang wees.”

Hy het niks gesê nie, my net aangekyk.

Die tafelblad was hard onder my elmboë. Ek was uitasem. “Ons twee deel iets,” het ek gesê sonder om my blik te verskuif. Dit was aan my oorgelaat om die gesprek aan die gang te hou. Ek kon dit aan sy houding sien. Tog kon ek dit nie bekostig om die kans te laat verbygaan nie. “Dink u dit is toevallig dat ek hierdie navorsingstog onderneem? Groot gewag word daarvan gemaak dat u in 1893 die Vrystaatse skyfskietkampioen was. My belangstelling strek verder as dit. Ek het pas nagelees oor bloedbande. Die rekords is vaag en ’n mens is op jou eie afleidings aangewese. Ek kon ’n ander onderwerp vir my doktoraal gekies het. Maar u was die enigste keuse.”

Frankfort, Reitz en Bethlehem. Boereoorlog-wêreld, verraaierswêreld. Senekal en Paul Roux. Vilonel sou hierlangs gekom het, in die tyd toe dit nog ’n grondpad was. Dalk was dit nog maar net ’n aanduiding van ’n pad, rooi stof opgeskop deur perdehoewe. Die man het steeds in die deur gestaan. Ek kon voel hoe my handpalms sweet, maar ek het dit reggekry om die trant akademies te hou.

“Alles vloei inmekaar, meneer Vilonel. Ek aanvaar dat u ’n uitstekende ruiter en ’n kenner van resiesperde is. Maar feite is daar om gekontroleer te word. Dit is waarom ek u spoor met soveel nougesetheid volg. Is u inderdaad ’n gerespekteerde regsgeleerde en ’n bekwame burgemeester? Alles in hierdie stadium slegs gerugte waarop ek moet steun. My opdrag as navorser noodsaak my om agter die kap van die byl te kom.”

Ek kan onthou dat ek afgekyk het na my nota’s. Toe ek opkyk, was die man weg, die deuropening leeg.

Die volgende paar dae se kyk in die stofpad af, het niks opgelewer nie. Dit het leeg gebly. Maar die vreemde gewaarwording tussen die Iceberg-roosbome sou my nie los nie. Bedags het dit minder geloofwaardig gelyk, maar sodra die son agter die Witteberge gesak het, was ek oortuig dat my vrae oor Vilonel op ’n wyse uitgestryk gaan word wat ek nie aan die begin van my studie voorsien het nie. As ek saans deur my venster gekyk het, het die bome donker gewieg in die wind. Die gevoel dat iemand op pad was hierheen, het van buite die bergkom gekom. En tog het dit tot binne-in my sandsteenhuis gedra.

Brandwaterkom

Подняться наверх