Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 14

HOOFSTUK 11

Оглавление

Die weke is vir Vilonel vol en naweke sorg Senekal vir sy eie vermaak. Al is daar steeds klagtes oor die jongmense se gefuif. Netjies in baadjie en das woon Vilonel die perderesies asook krieket- en tenniswedstryde by. Selfs die skoolkinders het ’n krieketklub, The Star of Good Hope, wat tot groot vermaak van almal dit een jaar regkry om die dorpspan te klop.

Aan boeresport – toutrek, vingertrek en skilpadtrek – wat Nuwejaarsdae op plase gehou word, het hy geen erg nie. Op die eier-en-lepelresies, sakresies, koekie-uit-die-meel-hap (vir die mans) en appel-uit-die-meel-hap (vir die vroue) kyk hy neer as iets benede mens se waardigheid.

In die dorp trek Vilonel aandag met sy teenwoordigheid. Dit is juis sy gewoonte om voor hy sy kantoor verlaat, eers ’n wyle in die hangspieël te kyk. Hier maak hy seker dat sy das reg sit en sy hoed se rand teen die beste hoek gebuig is. Hy klop liggies teen sy wange om die bloedsomloop aan te help en vee sy wenkbroue gelyk. ’n Streng blik of ’n vriendelike een? Dit hang alles af van die okkasie. Nog ’n laaste kyk, en dan is hy gereed.

“Middag,” groet hy buite in die straat; hy raak met sy vingerpunte aan sy hoed se rand. “Lyk my die weer steek op.”

’n Jaar of wat terug het hy nog aktief tennis en krieket gespeel. Nou kolf hy nog net vir liefdadigheid. Hy is steeds ’n sosiale lid van beide klubs. Hoewel hy kan raai dat Sarah die klubidee met haar Boereagtergrond as volksvreemd ervaar. Miskien berus sy haar daarin dat die tuinrokke, deftige hoede en teedrinkery goed by ’n Kaapse lewenstyl sou inpas. En dat haar eggenoot die geleenthede stellig alleen sou bywoon. Klubgangers en hul gewoontes is immers vir haar nog duister.

Op die perde is daar wel ’n pond of wat te maak, maar dit is by die krieket waar jy iets vir die oog kry. Dit het Vilonel goed geweet. ’n Hebbelikheid uit sy dae as oujongkêrel wat hy nou aan’t afleer was. Senekal se vroue is nie skaam om af te wys nie, al het hulle kwalik die rooi bal raakgesien. Was dit dan nie juis langs die krieketveld waar hy miss Sutty indertyd vir die heel eerste keer tussen al die ander vroue opgemerk het nie?

Maar bevestig in die eg, het hy hom geleer om haar uit sy gedagtes te weer. Net as die renperde in ’n stofwolk om die draai kom, sukkel hy nog om sy gedagtes in toom te hou. Wanneer die perde oor die wenstreep flits, wil die energieke, lewenslustige meisie van Skotse afkoms se rooibruin hare nie sommer hul lê in die wind kry nie.

As kampioenskut is hy ’n toegewyde lid van die skyfskietspan. Al toon hy soms meer tekens van afsydigheid, is hy op die sportveld altyd in ’n joviale luim. Dan is hy Fanie Vilonel – die man wat die beker as beste skut omhoog hou. En as die perde die dag in die regte volgorde gehardloop het, gaan hy en Sarah die aand na die bal in die South Africa Hotel.

“Ons het iets te vier,” kom hy by die huis aan.

“Dan was die middag se wag nie verniet nie.” Sy haak by hom in. Die mense kyk op toe hulle instap.

Hy was nou al reeds ’n hele paar jaar deel van Senekal. Met sy mondigwording in 1887 het hy die dorp kom verken en die Jubilee Ball ter ere van koningin Victoria se vyftigjarige bewind in dieselfde hotel bygewoon. Tóé het die Vrystaatse vlag en die Union Jack nog naas mekaar in die vrolikheid gehang. Boere en Ingelssprekendes het skouer aan skouer in die joligheid gedeel.

Ná die Charity Ball ervaar Vilonel nooit weer dieselfde uitbundigheid by die hotel nie, maar dit is steeds lekker. Hy dans wel minder en staan meer by die mans om die kroeg. Om vars lug te skep, loop hy soms alleen op die stoep uit. Sarah is dan aangewese op die ander vroue se geselskap.

“Dié ronde is op my,” sê Vilonel.

Nog nooit het hy teruggehou as daar verversings vir sy klante gekoop moet word nie. ’n Mens moet weet wanneer om terug te ploeg. Môre, oormôre kom dit terug na jou toe.

Vilonel sit sy koppie koffie neer en vee oor sy voorkop. Hy haal nie ’n muntstuk uit sy wallet nie; sy koste word opgeskryf en maandeliks vereffen. Sy hare is ylerig en effens klam. Hy bly nog ’n paar oomblikke sit. Die geluide in die straat raak weg. Sy praktyk, sy plaas, sy beeste en sy perde. Sy huis en sy vrou, sy deftige vrou. Hy sit sy hoed op en knoop sy baadjie se middelknoop vas.

Al hoe meer mense begin in die straat saamdrom. Hy sien selfs die sipier; ook die landdros en die polisieman. Doomnies Paul Roux is nog nie sigbaar nie; tog hoor hy doer gunter al die hoë stem in die gedruis uitstyg. Al hoe nader en nader kom die yl kanselstem nou. Vilonel sug. Voorwaar, jy kan ’n hond die blaf nie belet nie. Net onlangs nog het hy beslag gelê op ’n bottel brandewyn wat uit iemand se baadjiesak geval het en dit na sy huis geneem sodat hy die verbruiker onder vier oë kon spreek. Nou het onwettige bierbrou en boetes oor vullis wat nie betyds verwyder word nie, eensklaps op die agtergrond geskuif. Langs die sypaadjie wil onkruid begin opkom, maar niemand skyn iets raak te sien nie.

Ja, die dorpsregulasies lyk meteens verspot noudat die oorlog hier is. Dis of hy hier by die koffietafel Senekal op ’n afstand kan bekyk. En tog is hy onlosmaaklik deel van alles waarna hy kyk.

In die Vrystaat loop hy gewis al ’n lang pad. Van sy vroegste herinneringe is die skooltjie op Edenburg. Smiddae die spelery in die stofstrate wat in die somer tot skemer aanhou met die ma’s wat huismeide agter hulle aanstuur om hulle te loop haal. Gebarste hakskene in die winter en eselry by die vendusiegrond – almal se knieë nerfaf geval. By die dorpspruit het hulle klipgegooi, boom-geklim, skerms met riete gebou wat hulle huise genoem het en vis met saklyn en gebuigde kopspelde probeer vang. Voëleiers en krappe uit gate haal.

Betreklik laat in sy skooljare het hy eers aan ’n loopbaan begin dink. Dit was in die tyd van die rooi hakskene toe die seuns by die dorpspruit op ’n keer fyngevryfde donkiedrol in natgelekte koerantpapier gerook het. Juis in dié tyd, toe hy ’n indruk op die nooientjies wou begin maak, het die gedagte by hom posgevat. Maande lank het hy daarmee in sy kop rondgeloop – die idee om hom as wetsman te bekwaam. Handewerk, hetsy timmerman of messelaar, het vir hom geen bekoorlikheid meer ingehou nie. Selfs al was hy kleintyd al gaande oor ryperde en het hy elke boer in die distrik se perd by die naam geken.

Maar nou het hy van groot geboue begin droom waarin mens van hooggeleerdes opleiding ontvang. Van duistere boeke se geheime ontrafel, wandelings met nooientjies en diskussies in die skemerte. Edenburg het vir hom veels te klein geraak. Vir ’n ordentlike opleiding moes hy eers weg Kolonie toe en hy sou die Ingelse taal moes baasraak. Dit was een van sy grootste struikelblokke. Eintlik was dit meer uit boeke as uit gesprekke wat hy die koningin se taal bemeester het. Die skaamte en teruggetrokkenheid van die platteland het hy geleidelik oorwin, en hy het ’n talent ontdek waarvan hy nog heeltyd onbewus was – sy vaardigheid om mense met die tong vir sy standpunt oor te haal.

As student kon hy hom losmaak van ’n saak en dit op ’n afstand bekyk. Sy studies was vir hom swaar maar geen straf nie. Die hoë punte was sy beloning. Tog het hy strykdeur nooit van die Vrystaat vergeet nie. Dis waarheen hy gestreef het – om met sy kennis ’n eie regspraktyk te begin.

Maar hoe nou gemaak met die swartes in die oorlog? Gaan hulle kant kies, al mag hulle nie deel daaraan hê nie? Dis ’n oorlog tussen wit en wit. Tans mag geen swarte binne die dorpsgebied woon sonder ’n grondige rede nie. ’n Aandklokreël bepaal dat ’n kleurling nie ná nege op someraande en ná agt op winteraande op straat mag wees sonder skriftelike verlof nie. Dié wat die reël oortree, word beboet. Wat gaan nou gebeur tydens die oorlog met al die weerbare mans op kommando? Gaan die orde op Senekal in duie stort?

Vilonel stoot sy stoel onder die tafel in en stap oor die stofstraat. ’n Hond lek aan ’n wawiel en twee mossies pik in die sand waar iemand meel gemors het. Hy stap sy kantoor in, gaan sit agter sy lessenaar en kyk na die portrette teen die muur. Dit vertel ’n hele geskiedenis. Belangrike geleenthede en sportprestasies. By sy trouportret steek sy oë ’n oomblik vas. F. Armstrong Photographers van Bloemfontein het die kiekie spesiaal op Senekal kom neem.

Die afgelope ruk het hy hard daaraan gewerk om sy openbare gesig aan die mense voor te hou. Nie elke dag was maklik nie. Hierdie neerslagtigheid is boonop ’n nuwe ding; hy kan nie onthou dat hy in sy kinderjare daarvan las gehad het nie. Dit is soos iets wat hom uit die niet van iewers bekruip het.

Soms sal hy sy kantoor oor middagete sluit en van agter sy lessenaar kyk of hy sy hoede oor die kapstok se hake kan gooi. Só probeer hy die doellose gevoel afskud wat oor hom kom lê het. Op sulke dae wil hy nie eintlik mense sien nie. Sy boeke lê langs hom, maar hy is nie lus om te lees nie. Half tersluiks sal sy vingers deur The Strand Magazine blaai met Arthur Conan Doyle se storie van die bobaasspeurder Sherlock Holmes – maar dis hoe ver hy kom.

Voor hom op die skoon vel papier grif hy met sy vulpen onverstaanbare letters en syfers. Eers die alfabet van agter af na voor. Dan ingewikkelde deelsomme waarin hy kyk hoeveel keer hy met vier, sy gelukkige perdenommer, kan eindig. ’n Gekrabbel waarvan ’n buitestander g’n snars sou uitmaak nie.

Uit sy lessenaar se laai sal hy wel aanstons ’n pak speelkaarte te voorskyn haal. Werktuiglik skommel sy vingers die pak en hy deel die kaarte voor hom op die blad. Vreemde kombinasies. Patience. Só lees hy die duiwel se briewe agter geslote deur. Mettertyd sal die doelloosheid hom noop om allenig uit te ry skietbaan toe om ’n paar skote na die teiken te skiet.

“Kry jou natuurlike rigting reg,” sal hy sinloos met homself praat, want wie het beter geweet as hy. “Maak jou oë toe en laat sak jou loop. As jy hom weer lig, moet hy presies op teiken lê. As dit nie so is nie, verskuif jou lyf tot die roer vanself op die teiken mik.”

Hy skiet drie skote kort ná mekaar. Wanneer hy die koeëlgate deur sy lang verkyker bekyk, lê dit al om die kol maar nie binne-in nie. “Asemhaling, Vilonel. Moenie die sneller trek nie, druk hom net liggies af.”

Vilonel skuif nog ’n patroon in die loop. Hy laat sak die geweer tot dit gemaklik in sy linkerhand rus, maar skiet nie verder nie. Met sy hoed se rand afgetrek teen die son, lê hy lank en stil oor die loop en kyk. Iewers roep ’n kraai. Hy kyk nie op nie; die windjie stoot sterker oor die skietbaan.

En nou is die oorlog op hande.

In Fouriesburg kom Esther Emmenes regop en swaai haar bene in dieselfde beweging van die bed af. Sy het nog nie geslaap nie; sy was in ’n beswyming, weggevoer deur die musiek.

Met die rondrollery het die laken om haar nek gedraai. Dit is nie totaal donker in die vertrek nie. Maar daar was ’n verandering in die toonhoogte. Sy kon dit steeds hoor. In “Highland Cathedral” het die doedelsakke skreiend saam met die kerkorrel ingeval. Dis wat haar laat regop sit het.

Was die angstigheid van vroeër terug? Sy staan op en skakel die ketel aan om tee te maak. Dit sal haar aandag aflei. Miskien konsentreer sy te hard, sy moet die intrige meer op ’n afstand beskou. Dit gaan nie maklik wees nie, sy is al te lank verweef in die storie. Haar hande vou om die hitte van die groen blikbekertjie; haar oë is nou weer toe.

“Meneer Vilonel, dit verg heelwat konsentrasie om u roete te volg. Dis veeleisender as wat ek gedink het.”

Sy maak haar oë stadig oop. Fokus. Sy moet probeer om haar aandag op die meubels om haar te vestig. Die oorbekende alledaagse dinge. Oor die stoel se rugleuning hang haar deken – handgemaak deur Indiërvroue uit die oorskietlappe van sari’s. Die gebreide matjie onder haar voete voel warm en donserig. Oor die antieke spieëlkas haar sewe stringe Afrikakrale; haar verbintenis met die kontinent. Die enkele koperkandelaar met die stukkie wit kers wat sy by ’n pandjieswinkel goedkoop gekry het. Haar memento’s wat sy saamry indien sy vir lang tye uit Fouriesburg moet wees, soos wanneer sy ’n module by die hoofkampus gaan aanbied.

Die groen tee is amper te warm teen haar lippe. In haar gedagtes het die woorde vanself gevorm.

“Ek wil byvoeg dat ek nes u in die regte wou studeer, meneer Vilonel. Maar my ma wou nie. Sy het gereken ek sal as vrou ’n beter kans in die onderwys staan. Dis hoe ek uiteindelik in geskiedenis gespesialiseer het.”

Esther sou die nag moes deursien. Voor sy in die bed terugklim, soek haar hand weer die katedraalmusiek op die MP3. Zanta Hofmeyr op die viool en Wim Vorster as orrelis. Sy laat sak haar gesig in die donskussing en maak haar oë toe; haar asemhaling is nog nie reëlmatig nie.

“Nee, meneer Vilonel, my belangstelling in die regte is nie wat ons twee deel nie; ons deel dalk iets heel anders.”

Onder die laken trek sy die ander kussing teen haar lyf vas en slaan albei haar arms daarom. Dis hoe sy aan die slaap raak.

S.G. Vilonel se roete is vir hom uitgestippel tot in die Brandwaterkom. ’n Weg wat soos ’n rivier se kronkel met ’n ompad sou loop. Dit wis hy egter nog nie. Maar eers moet hy ’n heel ander rigting inslaan. Teen die steile Drakensberge af Natal toe om daar die Britte in hulle opmars te gaan stuit.

In sy tuisdistrik, wat nog onder Winburg val, is hy reeds met oorweldigende meerderheid tot veldkornet verkies.

Voor hy front toe vertrek, ry hy vir oulaas perderesiesbaan toe om te kyk of alles by die stalle in orde is. Is die duiwel nie listig nie! Dit is waar hy hom onverwags in miss Sutty vasloop. Hier in die middel van die week had hy haar nooit daar voorsien nie. Miss Sutty het natuurlik na die familie se nuwe vulletjie kom kyk wat gedurende die nag gebore is.

By die aanblik van die jongvrou steek Vilonel in sy vier spore vas. ’n Perd se skop kon hom nie feller getref het nie. Daar is nie sonbesies by die stalle nie en tog verbeel hy hom hulle skril geskree. Asof dit alle ander klanke uitdoof. ’n Paar sekondes staan hulle teenoor mekaar sonder om te praat. Sy mond is sonder speeksel en die woorde steek in sy keel vas.

“The war,” kry hy uiteindelik twee woorde uit. Dan ruk hy hom in ’n mate uit die beswyming en probeer in sy regstem praat. “Ek veronderstel dat u op die oomblik gemengde gevoelens oor die oorlog ervaar?”

Miss Sutty bly hom aankyk; sy antwoord nie sy vraag nie. “I am proud of you, mister Vilonel, for riding out of our little village with your men to meet the mighty Empire.” Sy steek haar hand uit en hulle groet. Toe draai sy om en stap weg. Die sagte aanraking van haar handdruk, dit is die een ding wat hom oor die volgende maande sou bybly. Nie die woorde wat sy met die omkyk sê nie: “Allow me to congratulate you. I have been informed of your marriage.”

Hy antwoord haar nie; hy kyk haar agterna tot sy om die hoek van die stal verdwyn. Vilonel het alle lus verloor om die stalle verder deur te loop. Ná ’n ruk se rondstaan bestyg hy weer vir Beaufort.

Op die dorp sluit hy sy kantoor onbepaald en laat sy dagboek agter. Dit is te waardevol om saam op kommando te vat. In sy hantering van die papiere kom hy agter sy hande is nog bewerig ná die onverwagte ontmoeting. Dat dít van alle dinge hom nou moes oorkom. Hy glip die kleiner dagboekie in sy bosak; in die veld sal hy daarin aantekeninge maak. Dit is belangrik om sy ervaringe te boekstaaf. Dit dan te gelegener tyd weer in sy netjiese handskrif te kom oorskryf. Hy kyk vir laas om hom rond. As sy boekery tog net nie in die slag bly met die oorlog nie. Dit is voorwaar onseker tye wat die dorp tegemoetgaan.

Vilonel steek die kantoorsleutel in sy sak en ry huis toe om te gaan groet. Sarah, sy vrou. Op hierdie oomblik het hy nie veel woorde nie. Hy noem nie dat hy miss Sutty by die stalle raakgeloop het nie.

Toe laat hy Senekal agter. Die perde is uitgevreet en springerig, die saals sit nog ietwat ongemaklik. Hy is in die veld saam met die burgers. In die stofwolk agter hulle raak Senekal weg.

Brandwaterkom

Подняться наверх