Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 13
HOOFSTUK 10
ОглавлениеDit is tog lekker met iemand saam met jou in die huis, moet die prokureur van Senekal teenoor homself erken. Veral wanneer hy smiddae terugkom van die kantoor af. Die geur uit die kombuis bring ’n rustigheid oor hom. Hulle het met hul slaapkamerdeur toe geslaap, al was daar niemand anders in die huis nie.
Vroeg soggens luister Vilonel na die geklap van swepe, ten spyte van die wetgewing oor geraas. Spanne osse beur vorentoe onderwyl die waens in toue deur die dorp trek. Reisigers het graag op Senekal oornag – die dorp het ’n skaflike reputasie opgebou, hier word selfs hul perde goed versorg.
Vilonel betrag die straattoneel deur die kamervenster terwyl Sarah nog aan’t wakker word is. Hy hoor haar op die katel omdraai en kyk om na die lang bruin lokke wat oor haar kaal skouers hang.
’n Mooi vrou, rustiger as miss Sutty; miss Sutty wie se skerp oë en bewegings vir hom altyd die bekoring van ’n roofdier ingehou het. Sarah se arm lê oor haar kop en haar nek is effens natgesweet. Hy bly steeds vir haar kyk. Onder die dun nagrok druk haar borste en heup saggies teen die materiaal. Sy beweeg haar arm. Haar asemhaling is nou vlakker en haar oë gaan oop.
“Môre,” groet sy.
Hy knik. “Ek het jou nog ’n rukkie laat slaap.”
In die straat klap daar weer ’n sweep. Deur die venster kom die osse rukkerig in beweging. Dit was hierdie waens wat die saadjie van hoop in die Senekallers se koppe kom plant het. Die ossewa het meer as ’n vervoermiddel geword, dit was ’n gedagte aan rykdom.
By aanskoue van die waens bly die dorp op ander dinge hoop. Hulle gedagtes draai ver. Nie by boerdery nie; dié is hulle tog gewoond.
Hulle soek iets anders, ’n rykdom van elders waarmee hulle nog nie vertroud was nie. Soos die res van die Vrystaat is hulle eerste gedagte natuurlik goud. Heelparty boere vind dan ook sommer van meet af aan dié edelmetaal op hul plase – die belowendste rif op die plaas Witkop, net drie uur te perd van die dorp.
Soos dit nou die gier geword het, hou die Senekallers juis daarvan om dinge name te gee. Die Senekal Gold Company Limited word dadelik gestig. Al die opgewondenheid haal die hoofberigte van The Friend, maar die goudriwwe is nie naastenby lonend genoeg nie.
Tog weier hulle om op te gee. Solank die waens deur die dorp trek, so lank sal hulle bly hoop.
“As die Rand goud het, dan het ons diamante!”
Groot gewag word hiervan gemaak en ene mijnheer Siebrit word aangestel om binne die bestek van vier maande negentig gate te boor tot op ’n diepte van veertig voet. Hy vind ystersteen, sandsteen, blougrond en ook geelgrond, wat vir hulle belofte inhou, maar kry in totaal ’n enkele diamant.
“Is steenkool dalk ’n beter opsie?”
’n Steenkoolsindikaat word onmiddellik in die lewe geroep. Die opbrengs is egter hopeloos te min. Boonop begin die runderpes die beestroppe uitdun; Sarel Breedt, Kiewiet Jonkers en Rooi Sarel boer uit en moet met vrou en kind as bywoners op ander se plase inval.
Van die spul trek Breedt hom die kwessie van armoede die swaarste aan. As jy nou eenmaal in die wieg gelê is vir ’n tiekie, moet jy maar vergeet van ’n pond. Hy staan op die plaasgrens by oom Mooi Piet. Van een ding kan sy oë nie wegkyk nie. Die houtpaal se knoetse waaroor hy so vryf, behoort nie meer aan hom nie. Hy kan maar vryf so lank as wat hy wil. Dis nou die eiendom van oom Lelik Piet, vir wie hy voortaan sal moet boer.
Breedt was by die familie al veels te diep in sorge en dié kon hom nie meer ’n pennie voorskiet om sy plaas te red nie. ’n Dak oor sy kop, dié het hy wel. Maar hoe dun kan jy nou ook ’n riem sny? So bekla hy sy lot vir ieder om te hoor. Asof hy hom daarin begin verlustig, soos wanneer groot droogte die kos uit die vee se bekke bly vat totdat jou kwelling in opstandigheid omsit.
“In huisdraklere, oom Mooi Piet, hoor my nou mooi, dis hoe ek Gertruida voortaan dorp toe sal vat – maar om wat te gaan koop?”
“Dis nie maklik nie, Sarel,” gee oom Mooi Piet toe. Sy vee het ook erg onder die runderpes deurgeloop.
Sarel Breedt se hand bly oor die knoetse van die hoekpaal vryf. Min of meer soos jy jou werfhond se kop vryf ná dié ’n muishond tussen jou hoenders doodgebyt het. Sonder die minste kraginspanning bult die spiere op sy voorarms. Iets, iemand, wil hy vermorsel.
Oom Mooi Piet ruik Sarel Breedt se sweet. Dis die eerste keer dat hy dit só ruik. Vir ’n lang ruk praat hulle niks nie.
Breedt weeg die woorde ’n ruk in sy kop voor hy dit uiteindelik sê. “Oom Lelik Piet se juk lê swaar op ’n man se nek.”
“Dit weet ek, Sarel.”
Daar is niks meer te praat nie. Hulle groet in stilte by die hoekpaal. Die voetpad waarmee Breedt terugstap, is bekend en terselfdertyd glad nie meer bekend nie. Sy voetstappe val in ’n ander man se stof.
Toe hy by die bywonershuis opdaag, gewaar hy ’n perd onder die seringboom. Dis waarlik sy neef, Rooi Sarel, se ros. Nou van waar Gehasi? Op die stoep sit dié met Gertruida en tee drink. Kan ’n man nou nie eens meer jou rug draai nie of jy word van alle kante af beleër? Watse teedrinkery is dit dié tyd van die dag terwyl hy in die veld na ’n indringer se vee moet omsien?
Breedt stap vererg teen die stoeptrap op. “Is dit dan nou Nuwejaarsdag?” groet hy.
Gertruida slaan haar oë neer en Rooi Sarel staan op. Maar hy antwoord nie vir Breedt nie. Die runderpes het die woorde uit Rooi Sarel se mond geneem. Hy staar sy neef aan sonder om ’n woord te sê.
Al dié terugslae dryf die boere terug na die veiligheid van hul voorstoepe. Hulle besluit om eerder op hul gesaaides te konsentreer. Op die lande gaan dit ook bars, want die runderpes maai ook onder die ploegdiere. Maar daar is ander dinge om oor te praat – die lastige verbod om nie meer as vyf gesinne werksvolk op een plaas te mag aanhou nie.
Wat gaan gebeur as die families begin ondertrou? Verder is daar met die aanwas van manlike en vroulike kinders ’n som te maak. Almal weet tog dat die toelaatbare elf swart manlike knegte heeltemal onvoldoende gaan wees om ’n gemiddelde plaas van 1 053 morg te bewerk.
En Vilonel se kantoor bly bedrywig.
Onverwags ontvang hy ’n besoek van ’n groothandelaar op die dorp. Hy wil weet wat die bevolkingsamestelling van Senekal is. Dit neem Vilonel ’n rukkie om die dokument op te spoor terwyl mister Marcus geduldig wag.
“Vir 1890 wys die opname 263 wittes en 253 swartes vir Senekal. Daar was nege-en-veertig huise vir wittes en sewe-en-dertig hutte vir swartes.”
“Dis nou nege jaar later, mister Vilonel. Hoe lyk dit vandag?” wil mister Marcus weet.
“Nou hoe wil mister Marcus so iets by my weet? Mister Marcus bly dan langer as ek hier. Jode, Engelse, Duitsers, Nederlanders en Afrikaners … winkeliers, hoteliers, smede, messelaars, karweiers, timmermans, klerke en twee artse.”
Nein, dis hoe mister Marcus self ook die saak sien. Hy wou net ’n tweede, betroubare opinie kry. Dis konfidensieel, maar eintlik wil hy sy business uitbrei. Nou maak die praatjies oor die oorlog hom steeks. Hy bedank mister Vilonel en groet hom met die hand. Maak gerus ’n draaitjie by die shop, altemits wag daar ’n Hochzeitsgeschenk op hom, knipoog mister Marcus.
“Hoe nou, mister Marcus?”
“’n Present vir die troue, mister Vilonel; al is dit bietjie ná die tyd.”
Hy kan reeds die volgende klant se voetstappe op die plankvloer hoor. Ongeduldig op en af.
Dit is weer oom Lelik Piet. Sy bure bodder hom steeds. Hierdie keer steel hulle sy weiding.
“Op my verste plase ja hulle die skaap snags deur die driwwe om my gras te kom vreet. As ek nie in die nabyheid is nie, hou dit tot ’n week lank op ’n slag aan. Hulle vreet my plase onder my uit!”
“Nee wat,” lag Vilonel, “skiet sal Oom niks baat nie. Skut eerder die skape en bring hulle dorpsgronde toe. Dan moet die boere hul eie vee by die munisipaliteit kom loskoop. Ná die eerste betaling sal hulle allemintig skrik.”
Hy stap saam met oom Lelik Piet deur toe. “Tot wederom, Oom. Dis nou maar die irritasies van grondeienaarskap.”
By die deur steek oom Lelik Piet vas. “Daar was iets oor ’n goeie koop wat ek jou in die oor wou fluister.” Hy vat ingedagte aan sy oor. “My magtag, nou het dit my helemal ontgaan. Miskien was dit nie so belangrik nie.”
Terwyl oom Lelik Piet wegstap, kyk Vilonel die op die oog af verhongerde gestalte agterna. Daardie wallet laat sy sak nie verniet so onfatsoenlik bult nie, dis gelaai met eikeblare. Die ewig verslete hoed met die donker sweetvlek om die bol ten spyt. Vir wie nie weet nie, kan hy geredelik vir ’n skaapwagter of huurling deurgaan. Moet hom net nie op sy baadjie gaan takseer nie. Dit sal jou duur te staan kom. Verslons kom hy wel in dorp toe gery, só sien menige onbedagte sakeman hom voor die kop maar nie in die krop nie.
Weinig in die Senekal-distrik se bankstate gaan nie deur Vilonel se hande nie. ’n Geslote boek – dit is waarop hy sy onderneming se reputasie bou. ’n Regsman moet ’n mensekenner wees. Nooit kan jy almal op dieselfde manier benader nie. Oom Lelik Piet verg ’n heel ander aanslag as mevroue De Swart en Moolman wie se boedels hy laas jaar afgehandel het.
Met dié twee weduwees had hy op die beginsel van gunste en gawes gewerk. In hul laaste maande het hy nie meer rekeninge uitgereik nie. “Nee wat, voortaan doen ek die belasting en geldsake verniet.”
’n Bloue duit gaan hy hulle vra. Maar soos hulle sal verstaan, benoem hy hom in die testamente wel as begunstigde vir die kontant in hul boedels. Dis hoe hy die saak sien. Sy deel sal hy eers neem die dag wanneer hulle die geld in ieder geval nie meer nodig het nie.
“Wat maak ’n mens tog met aardse goed soos kontant wanneer jy die poorte van die hemele betree?”
Vilonel het gelag. Soos hy hulle gesondheid aanskou, sal dit nog jare der jare duur voor dié dag uiteindelik aanbreek.
Hy het vars gebakte brood en konfyt by beide opstalle geëet. Eers nastergal wat hy in sy kleinbordjie geskep en met die punt van sy mes op die brood geplaas het sonder om ’n druppel te mors.
“Duidelik bessies wat vanaf middel Februarie van plante gepluk is wat in sanderige grond groei. Ook nie te suinig met die suiker nie – ’n pond vir ’n pond – afmetings wat getuig van ’n presiese hand, met liefde en sorg tot ’n meesterstuk omgetower.” By die aanhoor van dié vleiende woorde kyk die tante af in haar bord en bloos tot in haar nek.
“Die kuns van nastergal lê mos daarin dat die bessies nie almal gelyk ryp word nie,” hervat die prokureur. “Des te meer rede waarom mens so ’n nougesette hand nodig het. Elke plant moet iedere dag met ’n fyn oog deurgesoek word. Die bessies word mos oornag ryp en dan moet al die stingeltjies ook nog verwyder word eer die vruggies in die pot gegooi kan word.”
Wat hy hier proe, is bessies wat koel gehou en binne vier-en-twintig uur gekook is om die pers kleur en smaak te behou. Anders is die konfyt mos bruin en smaakloos. Nie almal weet wanneer die bessies klaar gekook het nie. Vanslewe had hulle mos ’n teelepel daarvan in ’n koue piering geskep en daaroor geblaas. As dit nie meer loop nie en sulke kreukeltjies maak, is dit gereed.
Die tante knik instemmend. Op sekere kunste kan mens nie verbeter nie, gee sy toe, dis presies hoe sy dit selwers nog al die jare doen.
Dit is merkwaardig dat dié edel vrug eintlik as ’n onkruid aangeslaan word, vertel Vilonel. Solanum retroflexum noem die geleerde mense hom. Maar vir ons is hy gewoon nastergal of msobo. In toeka se dae was hy ook bekend as “nagskade”, “nagskaal” of “nagtegaal”.
In Europa groei ’n variant wat hulle Deadly Nightshade noem – dit is natuurlik dodelik giftig vir die mens! By die eet daarvan kan jy binne ure omkap. Dit lyk of die tante ’n oomblik ineenkrimp voor sy woorde.
“Toe maar,” lag Vilonel, “ek weet van geen vergiftiging in die Vrystaat nie. Boonop is die dooddraende plant wat in Europa groei, nie dieselfde grootte as die plante wat ons hier aantref nie. Hulle bessies het op die koop toe ’n bitter smaak.”
Met die terugstoot van sy bord skuif Vilonel die dokument ongemerk saam oor die tafel. Hier en hier en hier moet die tante teken. Nee, moet haar nie nou gaan vermoei oor ’n getuie nie; dié kry hy sommer by sy kantoor. Papierwerk mog nooit so ’n voortreflike maal bederwe nie.
Op die volgende plaas kies hy vyekonfyt. “Op die dorp kry jy dit nooit só nie. Sekerlik omdat die heel vy met ’n vurk vol gaatjies geprik is sodat die stroop ordentlik kan binnedring.” Vilonel knipoog. “Ek raai dis dalkers oornag in kalkwater gelê om die skil ’n bietjie bros te maak. Al is Tante self nou nie meer helemal so aan die gang as vroeër nie, herken mens steeds Tante se hand in alles.”
Eintlik floreer dié Bybelse vrug in ’n Mediterreense klimaat – winterreënval en droë somers. Maar hier had hy nou voor hom bewys dat dit met die regte vertroeteling in Senekal se droë, kille winters ewe goed floreer as in die ideale klimaat van die Wes-Kaap. Indien nie altemits nog beter nie. As die boom al om die week natgelei word, verg dit weinig verdere aandag. Getrou sal dit jaarin en jaaruit vrug voortbring.
Vilonel stoot sy bord terug en druk liggies met die servet teen sy lippe. Hy trek die papiere oor die tafelblad nader en knip sy portmanteau met ’n hoorbare klik toe. Ná so heerlike maal het hy meer as genoeg krag vir die rit terug dorp toe. Sy hand vee vir laas oor die sagte leer van sy tas.
“Nee, bly gerus maar sit. Tante hoef regtig nie saam te stap nie, ek vind my weg sommer selwers deur die huis.”
Hy groet haar hoflik met die hand. Toe sy voetstappe wegsterf, bly sy roerloos by die tafel sit met die tjalie oor haar bobene gevou.
Enkele weke voor 2 Oktober 1899 – president Steyn se oproep tot oorlog aan die Vrystaatse burgers – is Vilonel ’n dokument aan die opstel toe die nuus hom bereik deur die ordonnans wat by die kantoor inbars.
“Môre, Veldkornet!”
Hy kyk gesteurd op. Vir goeie orde is daar juis ’n verbod in werking teen hard ry in die straat of nodeloos met ’n sweep klap.
Krygswet gaan afgekondig word! Die nuus het gister, op die heilige Sabbat, met die telegraaflyn deurgekom na Winburg en Senekal. Direk van president Steyn. Met rukke en stote vertel die ordonnans dat almal tussen sestien en sestig jaar opgekommandeer moet word.
“Ek kon nie help om self te lees nie, maar bring die nuus eerste vir Veldkornet!”
“Dankie,” sê Vilonel.
Toe die ordonnans weg is, stoot hy sy stoel stadig terug. Hy staan op en loop tot by die hortjiesvenster. Dié nuus verwag almal al weke lank. Hoekom voel dit dan so onverwags? Skielik is dit iets wat mens direk in die oë staar. Wat ’n neukery, en hy is boonop met ’n vrou getroud wat deesdae al hoe sterker Kolonie toe neig! Voor hy uitstap, trek hy sy baadjie aan. Dit is sy werk om te sorg dat almal in die veldkornetskap berig kry.
“Hou julle klaar vir enige gebeurlikheid,” het hy die burgers voortydig reeds gewaarsku.
Genoeg geweers en ammunisie? Hy twyfel nie daaraan nie – ingevoerde mausers en martini-henries, kaste vol patrone in die Vrystaat. Daar is geredelik voorsorg getref; die ding met Groot-Brittanje sit al ’n geruime tyd in elkeen se broek. Volgens kommandowet beskik elke burger oor ’n ryperd, saal, toom, geweer en dertig patrone; ook biltong en beskuit vir ag dae – nie in ponde bepaal nie; elke burger moet self uitwerk hoeveel hy nodig het. Ná die ag dae verstryk het, moet die goewerment na die burgers omsien.
Daar hang ses hoede aan die kapstok: die swart rondebolkuil wat hy tydens dorpsraadvergaderings dra; die vilthoed met die tarentaalveertjie in die band waarmee hy uitry plaas toe; sy duursame jagterspet met die Skotse kleurskema; en die effekleurige vendusiehoed met die smal rand en die patrysveertjie. Verder ook sy 1890-Derby American vir perderesies; en sy Panama Black Ribbon Newport om krieket van die plankpaviljoen te kyk.
Hy sit die jagterspet op. Die oorlog? Waaroor almal die afgelope maande getob het, is dan nou ’n werklikheid. Vilonel reken die Boere is gereed vir wat wag. Die Zuid-Afrikaansche Republiek het klaar hulle kanonne deur Delagoabaai laat invoer. Eintlik was die skrif op 31 Mei 1899 al aan die muur toe die samesprekings wat president Steyn tussen president Paul Kruger en sir Alfred Milner in Bloemfontein gereël het, misluk het.
Van Boerekant het hulle gehoor dat konsessie op konsessie aan die uitlanders gegee is. Kruger het dit ten laaste selfs toegestaan dat stemreg aan vreemdelinge gegee sou word ná ’n vyfjarige verblyf in die Transvaal. Niks het gehelp nie. Milner het getoon dat hy heeltemal onversetlik was. Van toe af was die oorlog op hande; hulle het nog net nie maand en dag geweet nie. Boonop is hierdie onmin geen nuwe ding nie. Het Rhodes dan nie al lankal gesug die hele kaart van Zuid-Afrika moet rooi ingekleur word nie?
Maar die nuus trek reeds op sy eie. Buite in die stofstraat is dit al waaroor die mense praat. “Die Ingelse!” ’n Beduiery met die hande. Hier en daar mik iemand klaar met ’n denkbeeldige geweer.
Die oorlog het skielik lewe in die dooie spul geblaas. Dit kan Vilonel duidelik sien. Min mense hier op Senekal kan sy werkstempo handhaaf. Die afgelope ruk het hy dit weer besef. Eintlik het die hele dorp nog nie uit hul winterslaap wakker geskrik nie. Nou het die oorlog dit klaarblyklik reggekry.
Kalmte. Dit is wat op hierdie oomblik geverg word. Hy gaan eers oorkant die straat ’n koppie koffie drink.
In die verbyloop groet die omstanders hom. “Dag, Mijnheer.” Hy knik terug. Twee agtereenvolgende termyne nou al in die dorpsraad, prokureur, deeltydse boer en afslaer ook. Stephanus Gerhardus, of eerder S.G. – soos hy graag in sakekringe bekend staan.
Sy afslaerskap is ’n uitvloeisel van sy prokureurspraktyk. Hy hanteer veral boedelveilings. Dan bring hy huisraad en losgoed onder die hamer. Dit is hoe hy dit reggekry het om sy plaas vir ’n appel en ’n ei toe te rus. Hy was die regte man op die regte tyd. En hy het die plaas boonop slim gekoop – reg teen die dorp. ’n Mens moet in die mark wees as daar die dag uitgebrei word.
Kyk net hoe groei Senekal deesdae.
As afslaer moet jy uit die vuis kan dink. ’n Bees in die verkoopsring met ’n enkele kyk na waarde skat. Jy moet kophou en somme kan maak. En jy moet kan praat. ’n Goeie afslaer is ’n toneelspeler. Jy dra die hele veiling met jou stem. Die grappies tussenin. Dis waarvan die boere hou. Dat jy die eentonigheid van hul dag darem so ’n ietwat kom opkikker.
Natuurlik moet jy meer as een taal kan praat. En dan nie Engels of die Boeretaal nie. Dit is eerder jou aanslag. Dit is wat in tel is. ’n Mens het verskillende stemme. Jou prokureurstem bêre jy vir die hof en die kantoor. Dan hang dit ook nog af of dit testament of huwelikskontrak is – of jy frons en of jy glimlag.
Naweke jou Saterdagstem en jou Sondagstem. By die vendusie geniet die kopers sy sêgoed. Die kwinkslag op die juiste moment. Dit bring jou klante in die regte stemming. Hulle moet knik nog eer hulle die bod te goed oordink het. Die Ingelse kuns van die short knock. Jy leer dit so langsamerhand aan. Party mense het ’n natuurlike aanleg.
Met die goue lepel in die mond gebore.
En konneksies – die spookbieër. Dit is wanneer die short knock so handig te pas kom. As jy die voorraad onder hamer eintlik selwers wil bekom. Dan moet die prys glad nie kans kry om te styg nie. Die transaksie moet so gou doenlik besleg word. Maar daar is ook ánder strategieë – die teenoorgestelde van die short knock. Dis om jou eie spekulasiegoed so ongemerk tussen die ander verkopers se goedere op te veil. So tersluiks, sonder dat iemand uitermate oplet, smokkel jy waarop jy net laas maand nog beslag gelê het tussen die ander vee in. Nou wil jy weer hê die prys moet vinnig die hoogte inskiet.
“Six beautiful heifers, locally bred, acclimatised and ready for your bull! Offers, gentlemen, offers!”
Dit is sulke tye dat die duiweltjie op sy skouer kom sit en die woorde in sy oor fluister. Vilonel se stem verander in ’n meesleurende gesang. Hier en daar vat hy ’n bod terwyl daar inderwaarheid geen bieër is nie. Hy gryp die bod in die wind en bid heeltyd oopoë dat iemand op die trein gaan klim. En so waar as waaragtig, daar skiet ’n hand omhoog! Nog ’n rympie of twee en hy slaan die bod op die koper toe wat maar heeltyd net teen homself gebie het. Vilonel vee die sweet van sy voorkop; hy kan ’n slag weer asemskep.
Heeltyd bly hy in die boere se kraal praat. “Nee, die ruiter is nie ingesluit by die prys nie” – as die boer se seun die perd by die verkoopring inry. En “Ja, nou is die ruiter ingesluit” – as die boer se kneg die perd inry.
Die boere staan so in ’n kring nader. Ook die omstanders wat nie kom bie het nie, wat net kom kyk het.
“Dié Vilonel darem. ’n Toornaar. Nee, kyk, die man weet nou maar eenmaal hoe om ’n vendusie te hanteer – hy het ’n slag.”