Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 15

HOOFSTUK 12

Оглавление

Later die aand klim ek teen die steil hoteltrap op.

“Bullet,” hoor ek die kroegman agter my aanroep.

Ek kyk nie om nie, ek hou aan klim. Die geraas in die kroeg word dowwer. Ek is nou op dooie grond, buite sig van die ander mense.

Bullet hou met sy een hand aan die trapreling vas. Onder sy voete kraak dit elke keer as hy treë verwissel. Die ou oorlogswond wat weer lewendig geraak het, help tog om sy jagtersbeeld af te skud.

Van almal in die kroeg ken net die kroegman sy ware geskiedenis. Die oorlogskarakters hang mekaar soos gewoonlik aan. Hulle gebruik min woorde en verstaan mekaar op ’n manier wat vir ander esoteries sou wees. Ek het van hom ook pensketse in my verbeelding gemaak. Al het ek nog nie ’n idee hoe ek dit gaan gebruik nie. Interessante karakters is skaars. Hulle doen hulle nie maklik voor nie; net as jy fyn uitkyk, sien jy hulle raak.

Hier is heelwat intriges in die bos wat ’n mens se aandag aftrek. Maar daar is ’n groter kwessie ter sprake. Die pak notas wat Bullet in sy bakkie se paneelkissie saamry, bly na die oppervlak kom. Soos met die pensketse van die kroegman, het ek nog nie heeltemal raad hiermee nie. Behalwe dat dit die kern gaan vorm van ’n plan waarvan Bullet nog net ten dele bewus is.

Sy weersiens van die kroegman het hom opnuut aan die oorlogsdae herinner. Hulle het lank alleen sit en staaltjies opdiep uit die Bosoorlog. ’n Teruggryp na vergange dae – ’n oorlog waarin daar nog geen berusting gevind is nie. Dit sal waarskynlik die stimulus wees om hom van voor af met die inhoud van die pakkie te vergewis. In die notas opgesluit, lê immers die boodskap wat hy na die Brandwaterkom toe moet dra.

Bo draai ek links in die nou gangetjie. Ek soek in my sak na die sleutel, sluit die kamerdeur oop en gaan sit op die enkelbed. Mens kan ruik die mat het al baie natgereën. Dalk ’n keer of wat natgepis. Onder my is die matras uitgehol. Ek trek my skoene uit en druk met my hand teen my sy. Die bakkie se geskud het die pyn erger gemaak. Dit maak nie saak hoe ek sit nie; die pyn is heeltyd daar. Mens leer oor die maande om daarmee saam te leef.

Onder in die kroeg kan ek die stemme en gelag hoor. Die aand het nog lank nie spoed verloor nie. Aan die rumoer klink dit eintlik of dit nou eers behoorlik op dreef is. Ek is nie lus daarvoor nie. Dalk oor die pyn in my sy. Hoe sal ek weet? Ek het self gekies om kamer toe te kom.

Gelukkig het ek twee boeke saamgebring. Ek haal dit uit en voel met my duime oor die voorblaaie. In my rugsak tussen die klere het dit al die pad skoon gebly. A greater share of honour van Jack Greeff, en André Diedericks se Journey without boundaries.

Ek het albei al gelees, maar wil ’n paar dinge oor die oorlog nagaan. Wie was saam op watter operasie? En wie van dié wat dit gemaak het, is vandag nog met ons? ’n Hele klomp wat dit oorleef het, het hulle oor die Afrika-kontinent versprei onder die dekmantel van security jobs. Dit gaan die aand heelwat korter maak. Ek sit die boeke langs my op die bedkassie neer en begin uittrek. Onder is die geraas nou so hard dat ek die venster moet toetrek.

Bedags op pad het ek ’n ander manier om die tyd om te kry. Dan speel ek ’n speletjie waarin ek teen myself meeding. Terwyl ek bestuur, tel ek in my gedagtes hoeveel grafskrifte ek woordeliks uit die oorloë kan herroep. Foutloos met komma, punt en al. Elke keer kies ek ’n ander slag en só vlieg die tyd tussen die dorpies verby sonder dat jy dit agterkom.

In een van die boeke het ek die paar handgeskrewe bladsye ingedruk. Dit het te vuil in die cubbyhole geword. In die boek was dit darem beskerm. Ek haal dit uit en vou die deurgevatte folio’s versigtig oop.

Hulle kom van Durban af. Vir die volgende paar dae gaan hulle in Pretoria oorstaan. Dit gaan ’n stil tyd wees. Bedags is hulle in die strate. Hulle doen inkopies: Vaseline om aan jou dye te smeer sodat jy nie deurskaaf nie, tandepasta, voetpoeier, Tarzan Bars, pleister en muesli vir jou noodrantsoen.

Saans word gebraai. Van daai braaie waar die vleis met groot sorg gaar-gemaak word, maar niemand eintlik eet nie. Die meeste ouens drink rum en Coke. Dis die suiker in die Coke wat jou eetlus mettertyd stil. Almal is maer, hard en seningrig. Heeltyd word grappe gemaak; daar word baie gelag. Hulle stamp speels aan mekaar, gooi veerpyltjies na ’n bord. Dis ’n tyd van oorstaan. In een van die kamers lê die kit opgestapel: groot uitgebulte rugsakke, baie seil. Dis waarna die hele huis ruik: na seil.

Pretoria is nie Durban nie. Maar Pretoria het ook sy kroeë. Die aand gaan hulle uit. Hulle bly in ’n groep bymekaar. Gaan kyk na ’n strip show. Die musiek klop ritmies. Kolligte hardloop oor die vloer en mure. Hulle sit terug in hulle stoele. Een of twee klap op maat van die musiek. Die meisie eindig haar strip in haar panty, ’n sterrietjie oor elke nippel geplak. Maar dis iets. Dis ’n manier om die siviele lewe te groet.

Ek sit die vel papier neer. Durban se girls was darem nog altyd interessanter as Pretoria s’n. Dalk omdat hulle Engels gepraat het. Dit het hulle vir ons anders laat lyk. In Pretoria het die meisies op ’n manier ook probeer. Maar dit kon nooit dieselfde wees nie. Die straat vol amptenare was te naby. Miskien het die taai seelug ook iets daarmee te doene gehad. Doer onder het jy altyd die gevoel gekry dat jy ver van die huis af was.

In Smuggies het die lewe stilgestaan.

Maar Pretoria was tog ’n oorstaanplek Bos toe. So ’n halfwegstasie met een tree klaar in die oorlog.

Buiten die bed, is daar net ’n hangkas en ’n tafeltjie in die hotelkamer. Die mat en gordyne bly muf ruik. Ek kyk om my rond. Hier is regtig fokkol in die kamer. Deur die venster weerkaats die maan op die bakkies se dakke. So stadigaan begin ek ’n vrou se geselskap mis. Dalk nie ’n spyker op die eerste aand nie, maar iemand wat langs my op die bed kan sit.

Brandwaterkom

Подняться наверх