Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 12
8
ОглавлениеDaar is nie tyd om senuweeagtig te wees nie, maar ek kry dit nogtans maklik reg.
Klere is die onmiddellike probleem. Ek moet iets aantrek wat gemaklik genoeg is vir die perd, maar cool genoeg vir Arnold. Natuurlik het ek niks wat hoegenaamd reg is nie en Isabel maak alles erger deur raad te gee. Op die ou end kies ek jeans en ’n toppie wat ingetrek is op die bors om jou minstens te laat dink miskien is iets aan die gebeur daar.
Ek smeer blitsig ’n snytjie brood, maar hap skaars toe die deurklokkie lui. Dis Annika en Arnold, en die eerste ding wat hy sê ná haai is: “Jammer om van jou pa te hoor, Mia. Ek hoop hy gaan oukei wees.”
Ek het van Pa vergeet! Ek wil amper sleg voel, maar toe moet ek in die kar klim en vergeet dadelik weer.
Arnold bestuur. Hy het sy lisensie in Januarie gekry, die dag toe hy agtien geword het. Hoe’s daai vir briljant? Ek klim agter in, van waar ek ’n goeie uitsig op sy agterkop het. Sy goudbruin hare krul laag in sy nek, net-net binne die skoolreëls. Vir afwisseling is sy hand op die rathefboom ook ’n goeie kyk werd.
Ons het nog skaars weggetrek, toe begin Annika babbel. Sy vertel my van Arnold se kunsprojek en die meisie wie se perd dit is – sy is eintlik op soek na iemand om haar perd te huur, want sy’s baie besig met matriek en alles, en anyway wil sy volgende jaar Engeland toe gaan vir ’n gap-jaar. Haar perd se naam is Harry Flashman, maar mens kan hom sommer net Harry noem.
Die plaas is nie ver nie, net ’n entjie buite die dorpsgebied. Die stalle lê teen ’n heuwel, tussen ’n paar buitegeboue en hoë bome en veld. Ons draai op met ’n grondpad. Ek sien ’n dam ook, en kampies, en daar is ’n meisie in een kampie, naby ’n bruin perd.
Hy lyk groot van agter af.
Die hap toebroodjie begin spartel agter in my keel.
“Daar’s hulle,” sê Arnold.
Die meisie waai vir ons. Sy het ’n blonde poniestert en dra ’n stywe swart rybroek. Die perd vreet gras. Hy lig nie eens sy kop toe ons verbyry na ’n plek om te parkeer nie.
My bene bewe toe ek hulle uit die kar swaai. Arnold maak die boot oop om sy kamera en goed uit te haal terwyl Annika koers kies na die kampie toe. Ek volg haar na die heining.
Die meisie loop na ons toe. Sy het rystewels ook aan. Dit lyk nogal cool, miskien kan ek sulke stewels kry sonder om actually te ry.
Uiteindelik lig die perd sy kop en kyk ons aan met nuuskierige bruin oë. Ek sluk, sy voorkant is net so yslik groot soos sy agterstewe! Ek sal sorg dat Annika eerste ry, dan kyk ek hoe sy dit doen. As dit my beurt is, doen ek net presies wat sy gedoen het.
“Hallo, julle!” glimlag die meisie. “Ek is bevrees ek het slegte nuus. Die tandarts moes vanoggend kom, maar hy is opgehou en gaan nou oor so twintig minute hier wees. Ons kan ’n paar foto’s neem, maar daar sal nie tyd wees vir julle twee om te ry nie, jammer.”
Die verligting is hemels. Ek probeer om nie te gelukkig te lyk nie.
“Ag nee!” Annika se kuiltjies verdwyn. “Is daar iets verkeerd met Harry se tande?”
“Nee, dis net vir ’n check-up,” sê die meisie. “Perde se tande moet partykeer afgevyl word sodat dit nie te lank word nie, en partykeer kraak of chip ’n tand.”
Harry skud sy kop, sy donkerbruin maanhare flap eenkant toe. Hy lyk verveeld.
“Wil julle terugkom in die vakansie?” bied die meisie aan. “Ek sal meer tyd hê, dan kan julle ’n paar keer ry as julle wil.”
Annika kyk na my. Miskien sal Harry kleiner word tussen nou en volgende week. “Oukei,” knik ons.
“Great. Dan kan ons begin.” Die meisie praat met Arnold. “Wil jy ’n paar pics hê van hom sonder die saal?”
Harry drentel na die heining waar ons staan. Hy beweeg half rukkerig, nie glad soos Rakker of Prinses nie.
“Haai, Harry,” sê Annika.
Sy langhaarstert dans, sy ore wikkel. Ek tree terug.
“Hallo daar, boy,” sê Annika.
Skielik pyl Harry reguit op my af! Met daardie groot tande wat eeue laas afgevyl is!
“Kyk, hy wil vriende maak,” sê die meisie. “Hou jou hand uit, nie te hoog nie, daar’s hy.”
Ek knyp my oë toe en maak soos sy sê. Ek hou soort van baie van hierdie spesifieke vyf vingers. Gaan hy …? Dan die ligste aanraking, soos fluweel, en ’n sagte proes. Warm asem fladder oor my hand.
Ek maak my oë oop. “Hallo,” sê ek.
“Kom, jy kan later verder met die girls gesels,” sê die blonde meisie. “Ons moet nou eers ’n bietjie werk doen. Dis die teuels hierdie –” sy wys ’n leerband vir my en Annika, en dan na sy kop, “en hierdie is die toom, waaraan mens die teuels vasknip. Partykeer sit ek ook vir hom ’n stang of ’n bit aan, om hom in die bek te trek. En as jy met hom op die grond wil werk, sit jy vir hom daai lead rope aan.” Sy beduie na ’n lang grys band wat oor ’n heiningpaal hang.
Sy lei Harry weg van ons, na die middel van die kampie. Arnold werskaf met sy kamera.
Ek laat my hand sak, kyk verwonderd daarna. Ek kan nog die warm fluweel voel, die sagte bruin oë op my.
Miskien kan Annika Harry ry en ek sal sy neus vryf. Dit sal perfek werk.
“Hallo, Harry Flashman,” fluister ek die kampie in.
Arnold se kamera begin kliek.