Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 17
13
ОглавлениеHaai Pa
Ek dink dit gaan nie meer lank wees voor ons ons eerste kaggelvuur van die seisoen maak nie. Jy sal sê wat van ’n vuurtjie, en Ma sal sê dis nog nie koud genoeg nie, en dan sal jy sê ’n vuur is nie net vir die koue nie.
Ek stem saam!
Toe ek klein was, het ek jou altyd gehelp as jy ’n vuur gepak het. Eenkeer het jy vergeet om my te roep voor jy begin het, en ek het gehuil toe ek dit agterkom. Daarna het jy nooit weer vergeet nie.
Ek het jou lank laas gehelp, maar ek onthou nog hoe. Die eerste stap is om te kyk of daar genoeg fynhoutjies is. As daar nie is nie, moet jy ’n paar stompe opkap. Jy kap altyd genoeg fynhout vir ’n paar vure.
Mens begin deur stompe op ’n stapel te pak, en dan rangskik jy ’n paar houtjies kruis en dwars binne-in. Dan skeur jy ’n vel ou koerantpapier op en druk koerantballe tussen die fynhoutjies in, die moord in die een hoek, die rugbywedstryd in die ander, en die skelm politikus iewers in die middel.
Jy het eenkeer gesê vuur was een van die heel belangrikste ontdekkings vir die mens, baie duisende jare gelede. Dit het die oermense gehelp om ’n bietjie meer beheer oor die lewe te hê, soos toe hulle die eerste gereedskap gemaak het van skerp klippe, en diervelle begin gebruik het, en sulke goed.
Oom George sê die Hindoes begrawe nie hulle dooies nie, maar brand hulle op brandstapels, in die openbaar, waar enige ou en sy hond dit kan sien.
Nou, ek wil nie enige Hindoe se gevoelens seermaak nie, maar ek dink dis totally gross.
Oom George sê die Hindoes is heeltemal oukei daarmee, want hulle brand hulle dooie mense al jare so om hulle siele te help terugkeer na hulle ware tuiste. As ons daaraan gewoond was, sou dit ons ook nie gepla het nie.
Nogtans. As ek moet doodgaan, sal ek eerder terugkeer na die grond, waar niemand na my kan kyk nie.
van
Mia