Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 7

3

Оглавление

Ek gaan soek Ma in die studeerkamer. Sy is op die Internet, ek kan die woorde “primary tumour” uitmaak voor sy die bladsy minimise.

“Nag, Ma,” sê ek. Ek tel my ou kleikameelperdjie op wat skeef op haar lessenaar lê en sit hom weer regop, langs Isabel se kraleboksie en die skulpe wat Tes by Silwerbaai opgetel het.

“Nag, Mia,” sê Ma. “Lekker slaap.” Sy kyk na my asof sy iets wil sê, dan kyk sy weer weg.

“Jy ook,” sê ek, en draai om.

Ek roep: “Nag, Pa!” in die rigting van Ma-hulle se slaapkamer en gaan na my en Isabel se kamer. Sy haal pajamas uit haar kas.

Die wind is nou heeltemal hyper, huil om hoeke, ratel vensters en ruk iewers aan ’n hek. Aan tafel het Pa gesê dit gaan reën. Die boere sal bly wees. Hulle was nou die aand op TV en het gesê as dit nie binnekort reën nie, gaan hulle gesaaides nie opkom nie.

Ek tel my selfoon op om vir Annika te SMS, maar skielik huiwer ek.

“Hoeveel mense dink jy moet ons van Pa vertel?” vra ek vir Isabel.

“Ek het al my vriende en die mense van die kerk laat weet,” sê Isabel. “En dit op Facebook gesit.”

“Facebook? Hoekom?”

“Dat almal aan Pa kan dink, natuurlik! Ons pastoor sal die gemeente Sondag by die diens ook vra om vir Pa te bid.”

Hoe kan sy die hele wêreld laat weet? Ek meen, ’n breingewas is nou nie so embarrassing soos, sê, aambeie nie, maar nogtans.

“Pa gaan gesond word, jy sal sien.” Isabel lig haar ken voor sy omdraai en begin uittrek. “Ek gaan hom saamvat na ons healing-dienste toe.”

“Pa sal nooit gaan nie.”

“Dis hoekom jy moet bid.” Isabel se stem raak weg in die sagte blou pajamatop wat oor haar kop gly. “Gebed verander mense.”

Isabel is baie into haar kerk. Op die oggend van haar veertiende verjaardag het sy in ’n vreeslike bui wakker geword wat ’n halwe jaar aangehou het tot sy saam met haar pelle na die kerk in Solwaystraat gegaan het. Sy is nou ’n jaar daar en ek moet sê, haar bui het baie verbeter.

Ek klim in die bed en maak my oë toe sodat Isabel nie met my sal praat nie. Maar dis nie stil in die kamer nie. Daar hang woorde in die lug, die woorde wat Ma netnou nie gesê het nie, en Ouma se woorde wat ek nie gehoor het toe ek vanmiddag uit die huis gevlug het nie, en …

Dit kom sit op my bed, druk op my bors. KANKER.

Kan gebed Pa regtig verander van ’n man met kanker na ’n gesonde man? Miskien moet ek dit probeer. Dit kan nie kwaad doen nie, kan dit?

Maar met wie presies moet ek praat?

Pa en Ma glo nie God is ’n man nie, want dit sal onregverdig wees teenoor vroue, en hulle glo ook nie hy’s wit nie, want dit sal onregverdig wees teenoor swart mense, Chinese, Indiërs, Pakistani’s, Maori’s, whatever. Hulle sê God is die grond van ons wese, in alles, maar ook meer as alles. Ek het natuurlik nie ’n clue wat dit beteken nie, maar dit sidestep wel die probleem van ’n wit man. Maar hoe praat mens met die grond van jou wese?

Toe bid ek sommer maar net. “Liewe Here of Grond-van-Ons-Wese, sal jy Pa asseblief help? Hy het kanker. Ek sal seriously bly wees. Dankie.”

Ek wag, maar daar kom geen antwoord nie. Isabel sê God antwoord soms “nee”, wat eintlik die beste antwoord is, maar een wat jy eers later sal verstaan. Hierdie antwoord is net stilte.

Tog voel ek beter. Miskien moet ek God net kans gee, partykeer sê Ma of Pa ook: “Laat ek daaroor dink” as ek vir hulle iets vra. God is dalk besig om te dink.

Ek hoor Isabel in haar bed klim, vroetel met haar duvet. ’n Skakelaar klik, die donker agter my oë word nog swarter. Isabel sug sag.

Hoe laat mense anyway wonderwerke gebeur? Dis iets wat jy eintlik behoort te weet, ingeval jou pa kanker kry. Oom George weet alles van hierdie soort goed af. Hy het ’n medalje van die universiteit gekry toe hy nog ’n filosofiestudent was, en hy is besig om ’n boek te skryf, oor waarheid. Pa sê hy gaan nog lank skryf, want waarheid verander die hele tyd, maar tog.

Miskien kan ek ook eendag ’n boek skryf, soos oom George, maar myne sal gaan oor wonderwerke. Dan kan dit mense help wat een nodig het. Ek hou van skryf, dis baie makliker as praat.

’n Boek oor wonderwerke. Alle soorte wonderwerke.

Toe onthou ek iets.

Dit was ’n Sondag ’n paar weke gelede toe ouma Issie en oom George-hulle by ons kom braai het. Oom George het met Pa langs die braaiplek staan en gesels, ’n bier in sy hand. Pa het tjops op die rooster gerangskik. Ek was ook op die stoep, besig om Rakker met ’n maagkrap-special te treat. Dit was ’n skroeiwarm dag en braai het dit niks koeler gemaak nie, maar ek hou van vure.

Oom George was besig om net lekker op spoed te kom. Ek het met een oor geluister. Van goed die helfte van wat hy gesê het kon ek nie kop of stert uitmaak nie, soos gewoonlik. Van die ander helfte het ek hier en daar iets gevang. Ek probeer dit onthou. Hy het gepraat oor die waarde van ’n ding wat hy “die transendente” genoem het, wat in die moderne samelewing verlore raak. Dis jammer, het hy gesê, want dis iets heilig. En kosbaar. Ek dink hy het kosbaar gesê.

Agterna het ek “die transendente” in die woordeboek opgesoek, maar ek sweer die verklaring sou meer verstaanbaar in Russies gewees het. Toe vra ek Ma. Sy het gesê dis iets wat nie gewoon of alledaags is nie.

Ek skakel my bedlampie aan. Isabel roer in haar bed vol skaduwees.

“Ek moet net iets check,” fluister ek in haar rigting.

“Make it snappy,” brom sy.

Ek het dit neergeskryf, wat Ma gesê het, op ’n bladsy in my spesiale flipfile. Dis waar ek sulke goed bêre. Woorde of sinne wat ek hoor of lees, wat interessant of mooi is, partykeer hartseer. Ek bêre ook my opstelle daar.

Ek sluip na my kas en maak die boonste regterdeur versigtig oop om nie te raas nie. Die flipfile lê langs my memory box op die boonste rak, die rak waar mens belangrike goed bêre wat jy nie elke dag gebruik nie.

Ek haal die flipfile af. Dis my soort stuff hierdie. Woorde. My brein slaan selde vas as ek skryf, nooit soos wanneer ek praat nie. Dalk moet ek altyd ’n pen en stukkie papier ronddra, soos mens met tissues doen, en as ek iets wil sê, skryf ek dit eers gou neer.

Aha. Hier is dit, op ’n stukkie papier, onder stratosfeer en skigtig:

transendente: gewoon maar meer as gewoon. Nie konkreet nie. Spesiaal. Soos wonderwerke?

’n Boek oor wonderwerke.

My vingerpunte vee oor die woorde. Isabel se asemhaling is diep en egalig.

Ek skeur ’n skoon vel papier uit my oefeningboek. Toe ek my pen optel, hoor ek iets buite. ’n Geruis, eers sag en dan harder. Dit reën.

Ek begin skryf.

Dit vat guts

Подняться наверх