Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 15

11

Оглавление

Ek sit op die bed, besig om aan te trek. Isabel het my voorgespring in die badkamer, waar sy elke oggend ’n roll call doen vir elke liggaamsdeel, so ek weet ek gaan nog lank wag.

Ek het nie verwag ’n feetjie met ’n pienk nagrok en deurmekaar wit hare gaan by ons kamer infladder nie.

“Hei!” Ek gryp ’n hemp en hou dit voor my bors. “As ’n deur toe is, is dit vir ’n rede, oukei! Klop voor jy inkom!”

“Jammer.” Tes lyk nie jammer toe sy haarself langs my op die bed neerplak nie.

“Gaan jy opgooi?” vra ek.

“Nee. Ek gaan na tannie Sybil toe.”

Sy gaan duidelik nie baie vinnig iewers heen nie.

“So? Moet jy dan nie gaan aantrek nie?”

“Ek het nog ’n nare droom gehad. Oor die wit huis.”

Ek sug.

“En dit was nie meer ver weg anderkant die berg nie. Dit het na my toe gekom!” Tes lyk of sy wil huil.

Isabel storm by die kamer in, reguit na ons groot spieël. “Ek het nog ’n friggen puisie!” kerm sy.

“Ek het nog ’n nare droom gehad. Oor die wit huis,” snuif Tes.

Toe laat val ek amper my hemp voor my bors. Pa sing. Hy sing vir die eerste keer in weke, ’n deuntjie uit Die Barbier van Seville. Soort van. Hy loop verby ons kamer. Hy sing hard.

“Dis D-mol, Pa, D-mol!” skree Isabel.

“O? Ek dag dit is D-muis,” sê Pa, en sing verder.

Isabel kreun. Ek is so happy.

By die skool gaan dit ook goed. Eers vertel Annika my van twee mense wat haar ouers ken wat breinoperasies gehad het en al twee nou so gesond soos varke is.

Toe kry ons ons Begroot-vir-’n-Partytjie-projekte terug in die ekonomieklas – en ek het 98 persent gekry! Die juffrou het geskryf dit was oorspronklik hoe ek die werkstuk opgemaak het soos ’n present, en ek is in my skik, want ek was bang dit sou te kinderagtig lyk.

En toe dit pouse is, loop ek verby Thomas en nog ’n ou op pad buitentoe. En hy praat met my! Hy sê: “Jis, hoe gaan dit met die speech?” Sy stem is verrassend diep.

My mond gaap oop en toe. Een sekonde, twee … vyf jaar. “Werk daaraan,” piep ek eindelik.

“Radical.”

“En jou speech?”

“Ek het ’n paar idees.”

Ek sweef na Annika met ’n simpel grin op my gesig.

Ek dink nie weer een keer aan Pa voor ek en Isabel by die huis kom nie.

Dit vat guts

Подняться наверх