Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 13

9

Оглавление

Haai Pa

Ek wonder waarmee ek sal begin as ek eendag die boek oor wonderwerke skryf. Ek bly dink “familie”, wat nie baie sin maak nie, ek weet. As daar nou een ding is wat konkreet en gewoon is, dan is dit familie.

Dis net dat alles begin met ’n familie.

Wel, amper alles. Ma sê party organismes kom nie van families nie, hulle kloon hulleself net, oor en oor. Dink net, ’n wêreld vol Isabels *ril*.

Maar Ma sê ook die natuur is eintlik soos een groot gesin, wat nie net uit lewende dinge bestaan nie, maar ook grond en water en lug. Sy sê alles het hulle eie soort intelligensie, selfs die lug, wat mens die stratosfeer noem. Maar die natuur bring ook droogtes en vloede en siektes, so dis nie exactly een groot gelukkige gesin nie.

Ons is ’n gewone soort gesin. Jy en Ma is gewone soort ouers, en ons is gewone kinders. (Oukei, ons al drie was verrassings, ons ken daai storie.) En ons woon in ’n gewone huis, wat jy en Ma self gebou het.

Die eerste foto in die huisalbum wys ’n skraal Ma op ’n leë erf met lang gras en spatsels wit aronskelke en oranje kappertjies. Op die laaste foto staan Ma met Isabel in haar arms, voor ’n klaar huis, maar nog niks tuin nie. Jy sê altyd Ma het ’n D(oktoraal) beplan en toe ’n B(aba) gekry.

Jy het die jungle gym gebou toe Ma my verwag het. Ek was ook ’n verrassing, almal het gedink ek is ’n seuntjie. Daai sonarfoto’s was seker maar ’n bietjie fuzzy.

Die laaste ding wat jy gebou het, was die studeerkamer toe Ma Tes verwag het, julle laaste baba-verrassing. Ek wil dit nie regtig onthou nie, maar ek kan. Dit was chaos. Ek en Isabel moes weke lank in julle kamer slaap en reën het ingestroom by die dak wat nie meer daar was nie en Tes is vroeg gebore, en toe was sy siek vir jare.

Ons gesin het twee oumas. Ouma Issie bly naby ons en ouma Magdaleen en oupa George bly in Klerksdorp. Oupa het ’n motorhawe en werkwinkel waarheen hy elke dag gaan, al is hy veronderstel om lankal afgetree te wees.

Oupa Faan is dood lank voor ek gebore is, toe Ma en tannie Theresa nog kinders was. Niemand het verwag hy sou doodgaan nie. Ouma Issie sê hy was sterk en gesond toe hy sommer net eendag by die werk vooroor geval het met ’n hartaanval.

Ouma het baie geld verloor ná hy dood is, en toe het sy weer gaan werk. Nou is sy afgetree, maar nog altyd besig. Sy kyk na die tuine by die sekuriteitskompleks waar sy bly (sy was eers opsigter ook, maar dit was te veel stres). Sy is ’n nice ouma, sy maak altyd grappies met ons. Sy gaan elke jaar saam vakansie hou op Silwerbaai, behalwe natuurlik hierdie jaar. Oukei, daar is die kosding (Ouma glo alles wat lekker is, is ongesond) en sy kan worry vir die eerste span, maar die kiemeding is beslis beter vandat Tes nie meer so baie siek is nie.

Ek dink dis nou eers genoeg van die familie.

van

Mia

Dit vat guts

Подняться наверх