Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 9
5
ОглавлениеAnnika staan op haar muur. Sy is nie regtig veronderstel om daar te staan nie, of op die skool se dak of enige ander snaakse plek nie, al is dit nie uitgespel in die tien bladsye – gaap – skoolreëls wat ons aan die begin van die jaar gekry het nie. Dis natuurlik hoekom sy daarvan hou. Gelukkig is die muur half weggesteek onder die peperbome, en Annika word anyway nooit gevang vir enigiets nie.
Sy waai toe sy my sien. Haar hare is vasgemaak in ’n skewe poniestert agter haar linkeroor. Sy lyk so cool daarmee. As ek dit sou probeer, sal ek net lyk asof ek in ’n muur vasgeloop het.
Ek plak my boeksak neer in die ry wat van die ingang af kronkel. Die teer is nog nat van die reën, maar dis nie te koud nie, so almal koek saam in hulle oggendgroepies.
Annika spring af van die muur en hop oor die helling van beton na my toe. Die laaste tree gly sy amper, maar sy verloor nie haar balans nie.
“Girlfriend, raai wat?” Haar oë blink. “Arnold sê daar’s ’n meisie in sy klas met ’n perd wat ons kan uitprobeer. Hy wil foto’s van die perd neem vir sy kunsprojek, ons kan Donderdag saam met hom gaan. Is dit nie great nie!”
Oh no. Nie nou nie!
Ouma Mia. Not! “Oukei, kom ons probeer dit.”
Annika se kuiltjies keep diep in haar wange. “En nog net ’n paar daggies voor die vakansie begin! Yayyy!” Sy gooi haar arms uit. “Ek kan nie wag vir die naweek nie, dis eeue van ons laas op Langebaan was. As die weer so bly, gaan ons vir seker swem. Ons gaan so fun hê.”
“Cool.”
“As julle nie vir die week Silwerbaai toe kan gaan nie, kan julle nie ook maar vir ’n naweek weggaan nie?”
Ek moet vir Annika sê.
“My pa …” Ek hoes. “My pa het ’n breingewas.”
Annika versteen. “Oh, my word. Jy bedoel – kanker?”
Ek knik. En vir ’n oomblik voel ek belangrik, en dan skuldig, want belangrik is verkeerd.
“Shit,” sê Annika. “Sal hy – ek bedoel, hoe erg is dit? Wat gaan gebeur?”
“Hulle dink hy gaan ’n operasie nodig hê. Dis nog nie seker nie, hy sien volgende week ’n neurochirurg.” Ek druk my hande in my baadjiesakke en probeer om casual te lyk.
Die klok laat my wip. Ons moet tot siens sê tot eerste pouse. Die graad agts is in die stupidste klasse verdeel, ek en Annika is nie bymekaar nie.
“Ons sal Donderdag seker nie te laat van die perd af terugkom nie?” sê ek. “Ek het die aand nog die debatskompetisie. Ek was ook flippen mal toe ek daarvoor ingeskryf het.”
“Nee, man, jy sal dit ace,” sê Annika. “Jy het dan al opstelkompetisies gewen!”
“Skryf is bietjie anders as praat.”
Om ons begin kinders beweeg. Ek kyk rond vir my boeksak, maar Annika gryp my aan die arm. “Die meeste mense wat ek ken wat kanker gehad het, het gesond geword, Mia. Ek is seker jou pa gaan oukei wees.”
“Thanks,” sê ek.
Die stroom kinders word breër, sleur ons saam die skooldag in.