Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 14

10

Оглавление

Ek kan Isabel se Fruity Body Wash tot in ons kamer ruik. En dis nog net die begin. Maak nie saak watter pel haar gaan oplaai vir die band se optrede by die Vroue vir Vreugde-seminaar nie, hulle al twee sal lyk of hulle pas van ’n loopplank afgeval het.

Ek klik my pen in en uit. Pa het gewone tyd huis toe gekom, maar toe het hy bietjie gaan lê. Dis nie goed nie. Net babas en oumense slaap in die dag. Gewone mense doen dit net as hulle uitpaas ná ’n Kersete of so.

Die oefeningboek is wit en leeg behalwe vir vier woorde boaan die eerste bladsy:

Aardverwarming: Probleem of nie?

Ek kan nie dink enigeen sal oor die rassisme-onderwerp wil praat nie. Dis boring verby en anyway ken ek nie enige rassiste hier rond nie.

Isabel het aangebied om te help met die onderwerp Is die Jeug Gereed vir die Toekoms?, maar ek het sommer geweet sy soek net ’n kans om te preek. Nee dankie. Wat beteken dit anyway om gereed te wees vir die toekoms? Ek voel nie eens gereed vir graad nege nie.

Aardverwarming was al wat oorgebly het. Pa sê hy dink ons het dalk ’n paar dringender probleme in Suid-Afrika as aardverwarming, maar Ma sê altyd doen wat jy kan, al is dit net iets kleins.

Klik.

Die probleem is, as my toespraak suck, gaan Thomas dit hoor. En selfs al kies ek op die ou end vir Arnold, wil ek nog altyd nie voor Thomas suck nie.

Klik.

Dis nou behalwe vir al die ander mense wat vir my gaan kyk.

Klik-klik-klik.

Ek dink ek gaan op die rekenaar werk. Dalk doen tegnologie die magic inspiration-ding.

Daar is ’n ou handdoek op die vloer by die studeerkamer se deur. Dit beteken die dak lek weer. Dit lek op dieselfde plek elke jaar ná die eerste reën, maak nie saak hoe Pa spook om die dak daar waterdig te maak nie.

Ek sit die rekenaar aan. Raait, Aardverwarming. En hoe om dit te keer. Ons het een van daai wheelie bins waarin jy papier gooi om te herwin, en Ma vat ons plastiek na ’n depot by haar werk. Pa gooi af en toe bottels en flesse in die glasdepot naby die Seven Eleven. En ons spaar water, maar dis nie of ons ’n keuse het nie, ons het die hele somer waterbeperkings gehad.

My neus kriewel. Mm, iets ruik soos Ma se sampioenhoender-uit-’n-pakkie. Pa maak eintlik die lekkerste hoender, braaihoender in die oond met knoffelaartappels, of hoender met witwyn en room en uie, maar hy maak net oor naweke kos. As mens honger is, is Ma se vinnige kos darem nie te sleg nie.

Dalk sal ’n break my goed doen. Ek volg die hoenderspoor kombuis toe. Ma pak plekmatjies op die tafel uit sonder om in my rigting te kyk. Rakker snuffel op die vloer.

Isabel storm om die hoek met klam hare en ’n stywe top en rompie. “Ma, gaan ons amper eet? Ek is laat! En ons moet dringend shopping gaan doen voor die naweek. Ek het klere nodig vir die jeugkonferensie.”

Ma frons.

“Nie net vir die konferensie nie,” sê Isabel haastig. “Ek het anyway nuwe klere nodig, veral toppies, laasjaar s’n is heeltemal te styf.”

Ain’t we lucky.

“Ons kan kyk,” sê Ma.

Pa en Tes kom ingedrentel. Pa se hare staan weer op aan die een kant, maar verder lyk hy min of meer oukei.

Ma vat die groen oondhandskoene en haal die oondbak uit die oond. Die hoenderstukke loer goudbruin en bros bo die romerige sous uit. My mond water.

Pa vryf oor sy oë. “My pa en ma wil volgende week vir ons kom kuier, oor die Paasnaweek.”

Die bak klap so hard op die granietblad, ek dog Ma het dit laat val. Rakker vlieg eenkant toe. “Hulle gaan nie hier bly nie, gaan hulle?”

Pa kyk verbaas na Ma. “Hulle hoef nie. Ek is seker George en Sybil sal nie omgee as hulle daar bly nie.”

“Hulle is welkom, natuurlik.” Ma skeur ’n stuk handdoekpapier af om die sous wat gemors het, op te vee. “Dalk is dit net ’n bietjie makliker by George-hulle. ”

Dis waar. Oom George en tannie Sybil het ’n groot slaapkamer net vir gaste, en dan nog ’n slaapbank in my tannie se spesiale meditasiekamer as iemand dalk by haar groot versameling engele wil slaap.

“Maar kom ons praat later daaroor, toe?” sê Ma.

Pa doen die tafelgebed. Hy noem nooit God spesifiek nie, maar Ma sê ons het so baie dinge om voor dankbaar te wees dat maaltye die ideale geleentheid is om daaraan herinner te word.

Ons begin eet.

“Het julle vandag mooi foto’s van die perd geneem, Mia?” vra Ma.

“Uhm –” Ek gee Isabel ’n waarskuwende kyk. “Ja, Arnold het ’n paar nice foto’s geneem.”

“Mia en Annika wil die perd ry.”

Oee, thanks for sharing, Isabel!

“Ry?” Ma frons weer. “Gaan dit onder toesig wees? Perde is senuweeagtige diere.”

“Ja, Ma,” sug ek. Voor sy verder kan uitvra, draai ek na Pa, wat ingedagte sit en kou. “Het Pa vir my enige tips vir debat? Die skool het gevra ek moet deelneem aan Donderdag se kompetisie.”

“Tips?” Pa skep rys met sy vurk op. “Lyk of jy bly is om jou gehoor te sien.”

“Wat is jou onderwerp?” vra Ma.

“Ek dink aardverwarming.”

“Goeie onderwerp,” knik Ma. “Kan ons na jou kom luister?”

“Nee!” Wat ’n aaklige idee. “Julle sal my net laat stres.”

Pa wys met sy vurk na Ma. “Het ek jou gesê ek het Gerrit by die motorhawe raakgeloop? Hy doen nie meer gewone dienste nie, hy het meditasiedienste begin.”

Isabel se oë trek op skrefies. Sy laaik nie van meditasie nie, haar kerk is daarteen. Ek dink dit het iets met demone te doen. “Wie is Gerrit?” vra sy.

“Hy was een van ons predikante toe ons nog kerk toe gegaan het,” sê Ma. “Ons het van hom gehou.”

“Flip, kyk hoe laat is dit!” Isabel begin kos inprop nes Rakker, spring dan op met die helfte van haar hoender nog op haar bord. “Moet hol, my lift is oor vyf minute hier!”

Ons eet klaar. Ek staan en wag vir Tes by die wasbak in die waskamer toe ek Ma en Pa in die kombuis hoor praat.

“Hy is nou ’n professor in neurologie by die Tygerberg Hospitaal. Onthou jy hom nie?” Dis Ma.

“Nee, my skat, dit was lank gelede. Maar in elk geval?”

Tes draai die kraan versigtig oop. Een, twee, drie druppels drup op haar bord. Sy is duidelik baie ernstig oor water spaar.

“Hy was baie hulpvaardig,” sê Ma. “Hy het gesê as die gewas in die serebellum is, is dit belangrik om dit so gou as moontlik te verwyder om die druk op die breinstam te verminder.”

’n Ysige vinger vee oor my ruggraat.

“Ja, ek weet. Die dokter het my gesê.”

“Hy het?”

Tes draai skielik om, bord in die hand. Haar gesig is spierwit. Daar’s geen waarskuwing voor sy begin hoes nes Prinses ná sy gras geëet het nie. Behalwe dat Prinses nog nooit op my gehoes het nie. Yuck.

Dit vat guts

Подняться наверх