Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 5

1

Оглавление

Ek het dit glad nie verwag nie. Dis ’n snikwarm somermiddag in die Kaap toe ek en Isabel huis toe swoeg van die skool af met ons boeksakke wat stamp op ons rûe.

Die straat koes vir die son. Gordyne is toegetrek, blomme druk hulle koppe onder hulle blare in en nie ’n enkele hond bestorm ’n tuinhekkie nie, nie eens die twee Jack Russells in die siersteenhuis by wie ’n spook normaalweg nie sal kan verbysluip nie. Onder ons voete is die gras droog en geel.

’n Ou met ’n matriekbaadjie brul op sy motorfiets verby en blaas ’n wolk uitlaatgas in ons gesigte.

“Dude! Koolstofvoetspoor!” spoeg Isabel agter hom aan terwyl sy dampe wegwaai.

“Sou Pa vandag dokter toe gegaan het?” vra ek. “Hy en Ma het iets gepraat daarvan vanoggend.”

Isabel frons. “Griepinspuiting? Jy weet hoe is Ma, dis nog Maart dan dink sy al aan sulke goed.”

“Dalk, ja.” Ek lig my poniestert om my nek te probeer afkoel. Vir die laaste twee straatblokke stry ons oor wat die lekkerste is om te drink, koeldrank, milkshake of smoothies. (By die huis sal net boring vrugtesap wag, en natuurlik Ma se gunsteling, heerlike-water-uit-die-kraan.)

’n Witkopdogtertjie en Maltese poedel verwelkom ons by die voordeur. Tes swaai ’n halwe sny pizza rond. “Kyk wat het Ma gekry!” Rakker slaan omtrent agteroor bollemakiesie soos hy ’n happie probeer score.

Yum, ons kry nie sommer pizza in die week nie. Dit verdwyn altyd vinniger as wat jy pepperoni kan sê, so jy moet jou deel vinnig claim.

“Hoeveel het jy al geëet?” check ek.

“Dis my derde sny, elkeen kry vier,” sê Tes. “Pa wil niks hê nie. Rakker, nee!” Rakker hap lug toe Tes die sny wegruk.

“Pa is hier?” sê ek.

“Is daar verskillende toppings?” vra Isabel. “Dan moet almal ewe veel kry.”

’n Wollerige grys stert flikker af met die gang. Prinses wat hallo en tot siens sê.

Tes mompel iets deur ’n mond vol pizza terwyl sy kombuis toe hop.

Ma is besig om messegoed van die skottelgoedwasser in die laai te pak. “Hallo, julle,” sê sy. “Lekker dag gehad?”

Iets aan haar lyk anders. Hare? Nope, dit lyk nie gesny nie, dit krul nog oor haar ore. En sy het haar gewone werkklere aan, swart langbroek en wit hemp, en haar plein silwer oorringe.

Ek maak die een pizza-boks oop.

“Ma, halloo, teelepels kom nie by die messe nie,” sê Isabel terwyl sy verby Ma leun om ’n bord te kry.

“O? Ja, sowaar.”

“Die salami-een is in hierdie boks,” verduidelik Tes, “en in daai boks …”

“Ma!” gil Isabel. “Daar’s uie op die salami-pizza! Mens moet vir hulle sê om nie uie op te sit nie.”

“Haal dit maar net af,” sê Ma.

“Yuck, hier’s genoeg uie vir drie pizzas.” Isabel grawe ’n grieselrige hopie uie uit onder die kaas.

Rakker sidder van opwinding.

Iemand kom by die woonkamer in. Ek kyk op en my maag roer onrustig. Dis Pa, en hy lyk presies dieselfde soort vreemd as Ma. Hy het ’n boek in sy hand en maak ’n snaakse klikgeluidjie terwyl hy loop.

Ek kyk na sy voete. Dis sy veters. Sy regterskoen s’n is los, met elke tree klik dit saggies op die teëlvloer. En sy grys hare staan op aan die een kant, asof hy gelê het.

“Hallo, Meisies,” sê Pa.

“Haai, Pa!” sê Isabel. Ek mompel ook iets.

“Pa sal nie glo hoeveel uie hulle op een sny pizza sit nie!” sê Isabel terwyl sy haar hand afvee aan een van die papierservette waarop Panarottis Pizza staan.

“Lekker, man!” sê Pa.

“Ek het gedink – miskien moet hulle eers klaar eet,” sê Ma.

Iets is verkeerd.

“What’s up?” Isabel skeur ’n stuk pizza af.

Ma en Pa kyk na mekaar.

“Kom sit gou by die tafel,” sê Pa. “Laat ek julle iets wys.”

Buite dreun ’n motor so hard verby dit klink amper of hy kortpad deur die huis gaan kies. ’n Hond gee drie kort blaffies voor ’n kermende weedeater hom stilmaak. Ek ruik salami. Ek wonder of die pizza-mense ekstra salami ook opgesit het.

Pa sit die boek op die tafel neer, sy duim halfpad binne soos ’n boekmerk. Dis ’n kinderboek, ’n wetenskapboek oor die liggaam wat oom George en tannie Sybil eenkeer vir Isabel vir haar verjaardag gegee het.

“Julle weet mos …” begin Pa, maak dan keel skoon. Die weedeater se gehuil sny in die kombuis in. “Julle weet mos ek kry die afgelope tyd baie hoofpyn?”

“Ja, die PMS,” knik Tes.

Ek giggel. Dit was net ’n joke wat Pa daardie keer gemaak het! Pa en Ma glimlag ook, en ek ontspan.

Toe sê Pa: “Wel, dit is toe nie PMS nie.” Hy maak die boek oop by sy duim. Op die bladsy is ’n illustrasie van ’n man se brein, binne-in sy kop, vol grillerige kronkels. “Ek het vandag vir ’n brein-scan gegaan, en dit het gewys ek het ’n gewas.” Pa draai die boek sodat ons kinders daarna kan kyk en wys na die onderkant van die brein. “Dis hier, in die serebellum,” sê hy.

Die weedeater word stil. Alles word stil.

“Wat’s ’n gewas?” vra Tes.

“Dis ’n klompie selle wat te vinnig groei,” verduidelik Ma. Haar stem is kalm en egalig, asof sy iets soos fossielvorming verduidelik. “Dan moet ons iets doen om dit kleiner te maak, soos dit uitsny, of medisyne gebruik om dit te laat krimp. Pa sal waarskynlik ’n operasie kry. Hy sien volgende week ’n neurochirurg, dan sal ons …”

“Is dit kanker?” fluister Isabel.

Alles ruik na salami. Hoekom het hulle so friggen baie salami gebruik?

“Ja,” sê Pa, “dis kanker.”

“Pa’s is nie veronderstel om kanker te kry nie,” sê Isabel. Haar gesig verkrummel, sy begin huil.

Onmiddellik bars Tes ook in trane uit. “Ek hou nie van pa’s nie!” snik sy.

“Hei, hei, mense, ek’s nog lank nie dood nie!” sê Pa. “Dis net ’n bietjie kanker, oukei? Ons speel sommer gou klaar daarmee.”

My maag ruk. Ek spring op en hol na die gastetoilet wat skoon en blink is en na laventel ruik, wat my nog naarder maak. Ek gaan so nooit weer salami eet nie, nooit nie! Ek val dwars oor die toiletbak en hyg, maar net ’n paar druppels spoeg kom uit.

Iets vee teen my been. Dis Rakker, hy spring op teen die toilet en snuif-snuif al om die rand. Eow!

Ek steier regop en spat water op my gesig. Ma verskyn in die deur. “Ai, Liefie.” Sy hou my styf vas. “Pa is in goeie hande, die dokters is so slim vandag. Daar is baie wat hulle kan doen.”

“Weet oom George en tannie Sybil?” vra ek.

“Ja, ek het vir Sybil gebel.”

Ek moet alleen wees vir ’n rukkie. “Kan ek gou Seven Eleven toe gaan vir ’n Coke, vir die naar?” vra ek.

“Dis reg.”

Ek probeer om nie na Pa te kyk wat nog steeds by die tafel sit nie. Maar uit die hoek van my oog sien ek Tes se arms om sy nek, en toe blaas hy sy neus.

Ek glip uit by die voordeur. In die middel van die tuinpaadjie gaan ek staan. Alles lyk anders, asof ek skielik in ’n straat beland het waar ek nog nooit voorheen was nie. Die huise is soos vreemdelinge, ek herken nie ’n enkele muur, boom of bedding nie.

Ek kyk op, na ’n vreemde blou lug bokant my. Ek knip my oë en begin weer loop.

Iets blaf. Dis soos ’n geluid uit ’n ander wêreld.

Ek loop vinniger.

Dit vat guts

Подняться наверх