Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 6

2

Оглавление

Die Coke proe snaaks. Ek vat ’n paar slukkies terwyl ek loop, maar die smaak verbeter nie. Uiteindelik gooi ek dit maar uit onder iemand se madeliefiebos. Die leë blikkie vat ek huis toe.

Ek moet vir Annika laat weet. Ek sal haar SMS.

Maar … is dit nie dalk net ’n droom nie? Dit voel friggen nes ’n droom. Wat as ek nou by die huis kom en net Ma is daar, en Tes, vir wie Ma elke middag by die skool gaan oplaai wanneer sy van die mikrobiologie-laboratorium af kom? En daar’s niks stupid spesiale pizza nie, net elke ou vir homself by die broodplank soos gewoonlik. En Rakker lê uitgepaas in sy mandjie, en Prinses lek haar stert skoon, en …

Toe ek in ons straat indraai, sien ek oom George se kar voor ons huis.

My hart sak in my skoene. As dit tannie Sybil se kar was, was dit nog orraait. Sy het nog nie weer begin skool gee ná haar motorongeluk nie en loer gereeld by ons in. Maar oom George is dosent by die universiteit, hy ry nie sommer rond in die week nie.

Ek loop al hoe stadiger. Sweet kriewel af teen my nek en gesig, ek vee die ergste af met my hande. Daar is nie uitkomkans nie.

Ek stoot die voordeur oop.

Die eerste ding wat ek sien, is oom George se wit hare. Hy is net ’n jaar ouer as Pa, maar hy aard na hulle ma, ouma Magdaleen, wie se hare wit was op dertig. Hy staan in die ingang na die woonkamer. Hy en tannie Sybil het seker nou net aangekom, niemand sit nog nie.

“Mia!” Tannie Sybil kom na my toe, sit haar arm om my. Sy is nice, ek wil sommer wegsmelt in haar veilige sagtheid. Ná haar ongeluk het die dokters gedink sy gaan haar been verloor, maar hier staan sy, op twee hele bene. Oukei, so sy’s ’n bietjie mank, maar wie gaan daaroor kla?

“Pappa het kanker,” vertel Tes vir tannie Sybil met groot oë. “Hy gaan na ’n spesiale dokter toe.”

“Dis goed,” sê tannie Sybil. “Die dokter sal hom mooi help.”

“Sit asseblief, julle,” sê Ma.

Ek sien nie vir Pa nie. Het hy weer uitgegaan? Isabel is ook nie hier nie, maar sy is waarskynlik sportoefening toe. Net ’n natuurramp sal die skool dit laat kanselleer, hitte tel nie.

Ma praat oor die neurochirurg. “… ’n dokter Marais. Ek het nog nie van hom gehoor nie. Weet julle enigiets van hom?”

“Nie ek nie.” Tannie Sybil kyk na oom George, wat sy kop skud. Sy gaan sit op die bank. Tes hang om haar rond soos ’n muggie.

Toe is Pa in die deur. Hy loop by die woonkamer in soos altyd as ons gaste het, met ’n wipstappie. Hy lig sy hand asof alles normaal is, dis net sy opstaanhare wat sy game weggee.

“Wim!” Tannie Sybil staan op en gee Pa ’n stywe druk. “Ons fight hierdie ding saam, nè. As daar enigiets is wat ons kan doen, praat asseblief.”

Oom George spring ook op. “Jy het gehoor wat die vrou sê,” sê hy. “As ons kan help, praat net, ou maat,” en hy gee Pa ’n stampie op die skouer.

“Noudat jy dit noem, daar is een klein dingetjie.” Pa soek na ’n stoel. “Hulle sê dis die heel beste behandeling vir hierdie soort van ding: ’n rooi sportmotor.”

Ek val amper van my stoel af soos ek lag.

“Dis nou ’n winskopie!” grinnik oom George. “Vir ’n oomblik was ek bekommerd jy gaan een van Sybil se konkoksies vra. Wat noem jy die goed nou weer, Syb?”

“Aanvullings,” sê my tannie. “Daar is ’n paar goeies, hoor, ek sal vir julle name gee.”

“Ek maak gou vir ons koffie,” sê Ma.

Tes druk ’n paar velle papier onder tannie Sybil se neus.

“Kyk, ek het kryte uit my nuwe boks gevat,” sê sy. “Hier is mauve, en daar is vermillion, en daar is ochre.” Ma het natuurlik die name vir haar gelees, fancy krytkleure is nie in graad een se leerplan nie. “Rakker en Prinses is ook hier, maar jy kan net hulle sterte sien, want hulle is agter die blomme.”

“Oe, dis pragtig,” sê tannie Sybil. “En hier is ’n mooi blou huis.”

“Lavender,” help Tes tannie Sybil reg. “Lavender is ’n goeie kleur. Ek hou nie van wit huise nie.” Sy ril liggies. “Ek het ’n bangmaakdroom gehad van ’n wit huis.”

“Jou ma is hier, Christa,” sê oom George terwyl hy by die venster uitkyk. “Sy dra ’n boks. Dit lyk soos druiwe.”

Flip. Ouma Issie het seker nog hanepoot gekry, daai spesiale druiwe wat net in die laatsomer ryp word. Wel, ons moet maar net almal stilbly oor Pa. Sy sal die nuus glad nie kan vat nie. Iemand kan haar ’n jaar van nou af sê, wanneer Pa weer gesond is.

Ma kom nader geloop en kyk na Pa. “Sy weet nog van niks. Wel, daar is seker nooit ’n goeie tyd vir sulke nuus nie.”

“Ek dink nie ons moet vir Ouma sê nie,” sê ek vinnig.

Pa staan op en loop voordeur toe soos hy altyd maak, met sy wipstappie, sy rug nog regopper as toe hy tannie Sybil en oom George gegroet het. Hy lyk amper heeltemal gewoon. As almal net hulle monde hou, sal Ouma niks agterkom nie.

Ek trek dringend aan Ma se hemp. “Ma!” Niemand luister na my nie.

Pa maak die voordeur oop nog voor Ouma die klokkie kan lui.

“Hallo, Wim!” Ouma klink vrolik. “Dis jou gelukkige dag, kyk wat het ek by die padstal gekry. Nog hanepoot!”

“Rêrig?” sê Pa. “Ek dink Ma jok. Ek dink Ma het ’n geheime wingerd iewers. Waar anders sal jy elke jaar soveel hanepoot kry?”

Ouma lag. Toe vra sy: “Hoekom is jy nie by die werk nie? Het jy die dag af?”

’n Monsterhand vat my bors vas. Ek vlug, deur die kombuis, die waskamer, uit by die agterdeur. My asem jaag. In die agterplaas swaai ek op teen die jungle gym, kyk die pophuis vinnig deur vir spinnekoppe voor ek in ’n hoek neerval.

Dis nie regtig ’n pophuis nie. Ons noem dit net so, dis eintlik maar ’n gewone houthokkie bo-op die jungle gym wat Pa vir ons gebou het. Isabel en ek het altyd met ons poppe hier gespeel toe ons klein was.

Ek leun teen die growwe planke. Bokant my kop is ’n dowwe gestamp en gekreun. Ek en Isabel het vir Tes vertel dis ’n onsigbare reus wat op die pophuis se dak bly, maar eintlik is dit net moerbeitakke wat oor die hout skraap as die wind waai.

Wind? Ek loer uit by die vensteropening. Sowaar, daar het ’n luggie opgekom. ’n Paar droë blare fladder oor die gras om die jungle gym. Dit lyk skielik so ver, die gras om die jungle gym, amper soos toe ek klein was en bang om op die platform te staan, want dit was so hoog.

Pa sou daar staan en sy arms uitsteek terwyl hy my aanmoedig: “Kom, Mia, spring! Ek sal jou vang!” Net soos in die swembad waar ons leer swem het. Pa sou in die water wees, nat en glinsterend in die son, naby die kant waar ek op die sementblokke sou staan en bibber in my swembroek. “Kom, Mia! Spring! Ek sal jou vang, ek belowe.”

Ek het nog niks van die huis se kant gehoor nie. Miskien het niemand vir Ouma vertel nie. Enigeen met twee breinselle sal weet dis die slimste ding om te doen. Ouma stres selfs oor gewone nuus, sy sal kanker nooit oorleef nie.

Ek vroetel aan ’n naelvelletjie. Ek moet vir Annika laat weet. Sy sal seker vir Arnold ook vertel. Ek meen, hy’s haar broer. En dan, as Arnold my by die skool sien, sal hy my dalk ’n drukkie gee.

Ouch! Ek het te hard aan die velletjie getrek, ’n druppeltjie bloed verskyn. Ek voel ’n bietjie skuldig ook. Mens is nie veronderstel om aan ouens te dink as jou Pa kanker het nie, is jy?

Maar voor ek dit kan help, dink ek aan Thomas ook. Ek ken Thomas nie so goed soos Arnold nie. Ek weet hy is in graad nege, maar hy is baie kort. Niks langer as ek nie, en ek lyk of iemand my kunsmis moet gee.

Die rede hoekom ek weet van hom, is omdat ek in hom vasgeloop het die begin van die jaar. En ek bedoel vasgeloop het. Ek het verdwaal op pad na die wiskundeklas toe – oukei, ek het verdwaal op pad na elke flippen klas toe, dit was die eerste week van graad agt!

Toe panic ek en hardloop, om ’n hoek, reg in Thomas vas. Dit was die eerste keer dat ek in ’n ou vasgehardloop het en dit was, wel, nie so sleg as wat mens sou dink nie. Thomas was soort van hard en sag gelyktydig en al is hy so kort, was sy arms sterk. Sy donker oë het vir my geglimlag.

Dis hoekom ek ja gesê het vir die debatskompetisie. Ek, Mia Malan, wat nie eens mondeling kan doen sonder om die heeltyd te wil omkap nie. Die Afrikaans-juffrou het my gevra. Toe ek sien Thomas gaan deelneem, awol my brein net daar en ek sit my naam ook op.

En dan die perd. Hoe moes ek geweet het Annika sou so keen wees? Ek het sommer net randomly gechat, ek was nie ernstig nie!

Iets wollerigs raak aan my been. Ek is uit die pophuis met een sprong, kap my kop so hard ek sien net sterretjies.

’n Verbaasde miaau.

“Prinses!” Ek voel-voel na die dak met een hand, hou my kop vas met die ander. “Ek dog jy’s ’n reënspinnekop.”

Toe hoor ek stemme.

Ek sien ’n blonde kop en ’n grys een, tannie Sybil en Ouma s’n. Hulle is op pad na oom George se kar, baie stadig, met tannie Sybil se arm om Ouma se skouers.

Oom George loop na Ouma se motor en klim in. Hy skakel die enjin aan. Dit klink nie soos Ouma se motor nie. Wanneer sy dit aanskakel, klink dit soos een of ander wintie wat sy kar by ’n verkeerslig rev. Pa sê dis omdat sy haar clutch te stadig laat uitkom.

’n Vlaag wind pluk aan my hare en blaas ’n hand vol stof in my gesig. Agter die huise oorkant die straat stapel die wolke op.

Dit vat guts

Подняться наверх