Читать книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira - Страница 16

12

Оглавление

Ek is al moeg gesit voor die rekenaar, besig om een lame openingsparagraaf ná die ander te delete. Dis interessanter om ’n prent van Bocephalus te soek op die Internet. Hy was die perd van Alexander die Grote, amper tweeduisend jaar gelede. Die pa in The Black Stallion het die storie van Bocephalus vir sy seun vertel voordat die skip vergaan het.

Ek het dit pas klaar geprint en weer begin dink aan aardverwarming toe Tes by die studeerkamer ingewals kom. Haar wange is pienk en haar oë helder, maar ek trust dit niks.

“Jy gaan nie hier opgooi nie, gaan jy?”

“Nee! Tannie Sybil het vir my spesiale druppels gegee en haar hande op my maag gesit en toe voel ek baie beter.”

“Mm.” Ek’s nie heeltemal oortuig nie

Tes hou papiere na my uit. “Kyk, tannie Sybil het vir my engel-stickers gegee.”

“Oe, dis mooi.” Dit is. Dis engele in juweelkleure – robynrooi, groen en skitterende blou – met vlerke van goud en silwer. Elke engel hou iets vas, soos ’n boek of trompet of skild. “Baie nice.”

Ek kyk weer na die skerm.

Tes vroetel al om my. Eers tel sy die apie-papiergewig op wat ons een Kersfees vir Pa gegee het en klets daarmee in apietaal. Toe vat sy die krammasjien en kram ’n vierkant lug vas met vier krammetjies, en toe gooi sy die boksie gekleurde skuifspelde uit op die lessenaar.

Sy werk op my senuwees.

“Hoekom gaan speel jy nie daar anderkant nie?”

Tes antwoord nie. Sy bou ’n rooi skuifspeldblom op ’n groen stingel.

“Hei, ek sê …”

“Dink jy engele is veilig?” vra Tes in ’n klein stemmetjie.

Wat nou? “Tes, het jy tannie Sybil se nuwe engel gebreek?” Dit was ’n baie duur engel, my tannie het dit vir haarself gegee vir haar laaste verjaardag.

“Nee! En sy’t gesê ek kan daarmee speel.”

“Nou wat’s dan fout?”

Tes rangskik ’n blou blom. “Tannie Sybil sê die engele pas my altyd op en ek kan enige tyd met hulle praat, en as ek ’n wit veertjie sien, beteken dit daar was ’n engel daar.”

Ek verstaan nie die probleem nie. “So?”

Tes buig ’n geel skuifspeld oop. “Maar wat as die engele sleg is?” fluister sy, haar oë vol trane.

Ek sug. “Engele kan nie sleg wees nie, dis hoekom hulle engele is.”

’n Traan drup op die skuifspeld. “Maar Isabel sê wat mense vandag dink engele is, is partykeer duiwels. So, as ek ’n wit veertjie sien, was daar dalk ’n duiwel!”

“Nee, man! Tannie Sybil weet baie beter as Isabel. Anyway, voëls het ook vere. Ek dink ’n wit veer sal in die eerste plek beteken daar was ’n voël, of op die ergste ’n engel.”

“Dink jy so?” snuif Tes.

“Totally. En nou moet jy skoert. Ek het werk om te doen.”

Ná nog so tien crappy sinne besluit ek om op te gee. Maar sowaar, die oomblik toe ek my stoel wegrol van die lessenaar, kry ek ’n blink idee.

Ek rol die stoel weer vorentoe en begin tik, sonder om asem te skep, van begin tot einde.

Dames en here, ta-da-dam: Mia se speech!

Dit vat guts

Подняться наверх