Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 10

Donderdag 4 JANUARIE 2018 Lees Galasiërs 4:4-7

Оглавление

God se tyd

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur (v. 4).

Dit is ook maar goed dat God se horlosie en kalender gans anders funksioneer as ons s’n. Daarom kán dit op hierdie vierde dag van die nuwe jaar steeds Kersfees wees, en op elke dag in die jaar wat voorlê.

Wie wil tog die invloed wat die radikale ingryping van God op ons lewe het aan tyd koppel? Nee, ons sal elke uur van elke dag van elke jaar en tot in ewigheid dankbaar wees vir die vryheid wat sy Seun vir ons bewerk het.

Hy het ons losgekoop, sê Paulus hier, niks minder as dit nie. Dit is deur Hom dat die Heilige Gees in ons hart woon, dat ons God “Vader” (v. 6) mag noem. Dat ons sy erfgename geword het. Dit is vir ons dus elke dag Kersfees, en vir altyd.

Omdat God se tyd die regte tyd is.

Want as Hy vir óns moes wag om in ons wêreld in te gryp, sou Hy – met alle respek gesê – steeds gewag het. Ons is net nooit reg nie, ons vra gereeld uitstel. Ons beroep ons altyd en in byna alles op God se geduld: Gee net kans, Here, ek sal U laat weet wanneer ek gereed is. Ek sál nog u wil leer ken; wag net asseblief nog ’n bietjie.

Goddank: Hy het toe nie gewag nie. Hy weet watter keuses om aan sy kinders oor te laat en watter nié. Hy kom maak dit ewig Kersfees in ons lewe – omdat Hy ons ken. En omdat Hy ons so bitter liefhet dat Hy nie kanse waag nie, nie met ons soort betroubaarheid nie.

____________________

Dankie, Here, dat u genade vir my genoeg is. En dat dit altyd betyds is.

Uit die beek 2018

Подняться наверх