Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 7

Maandag 1 JANUARIE 2018 Lees Jesaja 62:1-3

Оглавление

Nuwejaarsdag

In die Here se hand

Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou … (v. 3).

Die eerste dag in ’n nuwe jaar bring altyd ’n spesiale tinteling met hom saam – daar is immers die moontlikheid van nuwe dinge. En daarom is Jesaja 62 se eerste verse straks die ideale teks om die jaar mee te begin.

Vir Ou Israel was daar in daardie tyd geen “goeie ou dae” om aan terug te dink nie; daar was bloot vernedering, swaarkry, woede, verydeling, uitsigloosheid. Dit was ’n tyd wat hulle dikwels omgewens het, wat hulle bloot agter die rug wou kry, in die vae hoop dat iets beters op hulle wag. Slegter kon dit sekerlik nie gaan nie …

En hier sê die profeet wat hulle gesmag het om te hoor: Daar kom inderdaad ’n nuwe dag! ’n Dag vol helderheid en redding. Almal sal dit sien, hierdie nuwe moontlikhede in jul lewe.

Julle sal ook hoor dat julle ’n nuwe naam het. Niemand sal julle dus meer Teleurgesteld kan noem nie, en julle sal nie meer soos vroeër reageer as die ander julle as Beswaard! uitlag nie.

Dié nuwe naam is deur die Here self aan julle gegee. Voortaan heet julle Kosbaar. Kyk hoe styf hou Hy julle vas! En voel hoe versigtig dra Hy julle rond.

Ja, dinge is heel anders by hierdie eerste tree van die nuwe begin. Juis vir julle, kosbare Koningskinders, wat in die Vader se hande leef en daar tot rus kom. En wat van daar af jul oë groot ooprek om behoorlik te kan uitsien na die jaar wat kom.

____________________

Here, dra my mooi in die nuwe jaar, asseblief.

U weet mos hoe broos ek is. Gee my tog die rus en vrede waarna ek so smag, en blink oë as dit kan.

Uit die beek 2018

Подняться наверх