Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 22

Dinsdag 16 JANUARIE 2018 Lees Psalm 139:1-6

Оглавление

U sien dwarsdeur my

Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (v. 6).

Natuurlik is die wete dat die Here “dwarsdeur” (v. 1) ons sien bo ons begrip. Én veels te erg om selfs aan te dink. Ek bedoel: Wat sien Hy nie alles nie! Wat ’n seeroog is ek nie vir Hom nie!

Ons kan niks vir Hom wegsteek nie, niks. Hy sien ons hart, ons bedoelings, ons motiewe en geheime agendas. Hy sien deur ons plannetjies en verskoninkies. Hy lag vir ons vroom fasades en manhaftige maskers. Hy weet alles.

Dit gaan ons verstand te bowe dat Hy ons nie al lankal afgesweer en weggesmyt het nie. Dat Hy nie destyds reeds moed verloor en ons aan onsself oorgelaat het nie. Dat Hy steeds met ons uithou en aanhou.

Dat Hy ons, sonder om moedeloos te word, volg op die vreemde reise wat ons onderneem. Dat Hy ook vertoef by die oorblyplekke wat ons weet nie sy goedkeuring wegdra nie. Dat Hy ons herhaalde keuses wég van Hom af verdra: Daar waar ons gaan sit om Hom te probeer flous, of opstaan om opnuut die verkeerde pad te vat.

Ons lê oop en bloot voor Hom, voor sy alsiende oog waarvoor ons nie kan wegkruip nie. Ons geheime is vir Hom algemene kennis. Ons versigtigste fluistering dawer in sy ore.

Nee, dat Hy Allesweet heet, verstom ons nie; Hy is immers God. Maar dat die Naam waarby ons Hom leer ken het ook Allesverdra is, die Vader van Vergifnis – dié wete is ver bo ons vuurmaakplek.

____________________

Ek skaam my vir alles wat U van my weet,

Here. Sien U kans om my óór te maak?

Uit die beek 2018

Подняться наверх