Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 35

Maandag 29 JANUARIE 2018 Lees Deuteronomium 18:17-20

Оглавление

In sy Naam

“Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie” (v. 19).

’n Profeet vertel nie sy eie storie nie. Dit is nie sý woord wat gebring word nie. Uiteraard praat hy ’n ander Een na die mond.

Daarom het hy die hoë roeping om goed te luister en om die regte inligting oor te dra. En op die manier wat die Here wil hê hy dit moet doen. Die profeet is ’n boodskapdraer, niks meer nie. Maar dan ’n draer van die Boodskap, niks minder as dit nie.

Daar rus dus ’n dubbele verantwoordelikheid op hierdie profeet: Hy self moet die Goddelike boodskap duidelik hoor en goed verstaan, én hy moet sorg dat sy hoorders dit hoor en verstaan. Dit vra vir sorgsaamheid, vir sensitiwiteit. Vir die empatiese inleef in die situasie waarin hulle wat hom aanhoor hulle bevind.

En dan moet hy in hierdie omstandighede die boodskap na sy beste vermoë bring.

Dit is wat hy doen, niks minder as dit nie. Maar ook niks meer as dit nie. Hy kan nie sy hoorders dwing om hom te glo nie. Hy kan hulle dalk soebat, maar die keuse om reg te reageer, is steeds hulle s’n. Hy kan nie rekenskap van hulle eis nie.

Dít alles is God se werk. Sy profeet bring sy woord, maar Hy wie se woord dit is, Hy dra die swaard.

____________________

O Here, leer my wat om in u Naam te sê en

hoe om oor U te praat. Weerhou my van ’n liefdelose, ongeloofwaardige gebrabbel.

Uit die beek 2018

Подняться наверх