Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 34

Sondag 28 JANUARIE 2018 Lees Deuteronomium 18:15-16

Оглавление

’n Profeet

“Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote” (v. 15).

Hy sou soos Moses wees. En uit eie geledere kom. Hy sou sekerlik ook mettertyd leer, soos Moses en almal ná hom, dat ’n profeet nie in sy eie land (of stad of dorp of werkplek of familiekring) geëer word nie.

Niemand is seker na wie Moses hier verwys nie. Josua dalk, sy uiteindelike opvolger? Samuel, daardie waardige priester? Of beduie hy dalk ver vooruit na Jesus, die Christus, die grootste Profeet van almal?

Dit maak nie regtig saak wie hier ter sprake is nie, die feit bly dat iemand wat as ’n profeet optree ’n vername roeping het. Daarom vra dit ten minste vir ’n plegtige aankondiging soos dié. ’n Profeet se eerste opdrag is immers om by God te gaan hoor: Wat sê U, Here?

Dan vra dit mooi luister en seker maak dat jy reg hoor. Jy kan dit nie bekostig om jou eie kop te volg nie. ’n Profeet se hart moet fyn ingestel wees op God se stem. Want daar kom ’n tyd dat hy tussen mense moet gaan staan – afhanklike, verleë, desperate skepsels soos hy – en vir hulle moet sê: Só sê die Here.

Hy moet glo in wat hy verkondig, en hom nie laat intimideer deur mense wat hom nie wil glo nie. Hy sal nie die eerste profeet wees wat nie in sy eie kring geëer word nie. Hy durf ook nie een van dié wees wat voor gewildheid buig en onder populêre druk swig nie. Hy praat met God se stem.

____________________

Leer my, Here, om u woorde goed te hoor,

sodat ek dit akkuraat kan vertaal.

Uit die beek 2018

Подняться наверх