Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 25

Vrydag 19 JANUARIE 2018 Lees Johannes 1:43-51

Оглавление

Om deur Hom geken te word

Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” (v. 48).

Jesus het hierdie man lankal raakgesien. Hy het dit net nie geweet nie. Hy dink hy ontmoet Jesus, toe ken Jesus hom reeds.

Ja, toe Jesus Natanael onder die vyeboom sien sit, het Hy reeds tot in sy hart gesien. Daarom kan Hy van hom sê: “Hier is … ’n man in wie daar geen bedrog is nie” (v. 47). Toe Natanael sy oë nie kan glo nie, verseker Jesus hierdie man met die suiwer hart: “Jy sal nog groter dinge as dit sien” (v. 50).

So werk dit maar wanneer Jesus – die Immanuel, die God by ons – Hom met mense bemoei. Hy ken ons lank voordat ons Hom leer ken. Hy ken ons beter as wat ons onsself ooit sal ken. Hy sien dieper en verder as wat ons in der ewigheid kan vermoed.

Boonop wys Hy ons dinge wat ons verstand en ons verbeelding te bowe gaan, en probeer Hy op allerlei maniere om ons ’n uitsig op sy ewigheid te gee. Straks in die hoop dat ons ons eie oë sal begin glo, en dan vir Hom.

Sal ons, wat tog sulke gebrekkige insig het, iets hiervan verstaan? Ons kennis oor onsself is beperk vanweë ons verraderlike selfdunk en getint met ons eie koesterende kwas. En as ons nie eens na binne kan kyk nie, hoe sal ons ooit leer om na buite, na Bó, te kan kyk?

Om deur Hom geken te word, is ’n fenomenale voorreg. Om deur Hom verdra te word, is ’n Godswonder. As Hy ons boonop roep om Hom te volg – kan ons dan anders as om dit met vreugde en verwondering te doen?

____________________

Here, ek sien u wonderwerke elke dag, veral ook dié in my eie lewe. Hou my oë asseblief wyd oop!

Uit die beek 2018

Подняться наверх