Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 37

Woensdag 31 JANUARIE 2018 Lees 1 Korintiërs 8:1-6

Оглавление

Afgode?

… net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe … (v. 6).

Paulus antwoord hier op ’n vraag wat dié gemeente se mense klaarblyklik gepla het: Hoe gemaak met vleis wat aan ’n afgod geoffer is? Mag ons dit eet?

Hieroor moet ons goed dink, sê Paulus. Sien, kennis is mag. Maar kennis maak ook verwaand. Ja, dit help jou dalk om iets te weet, maar dit is nie te sê dit help God of jou medemens nie. Daarom is dit veel beter om niks anders te weet nie as dat jy moet liefhê. Om jou medemens lief te hê, bou hom en haar op. En “as iemand God liefhet, ken God hom” (v. 3).

Wat Paulus by die eintlike vraag bring. Afgode? is sy teenvraag. Daar bestaan mos nie sulke goed nie. Almal weet tog daar is net een God; die res is alles “sogenaamd” (vgl. v. 5). Hoe hulle ook al aangespreek word, hulle is niks en niemand. Afgode is hul aanbidders se eie maaksels. Hulle word geskep na die beeld en die gelykenis van dié wat voor hulle kniel. Gek, nie waar nie?

Maar mense wat hulle slim hou, is dikwels stapelgek. Hulle het net hulleself lief en buig by voorkeur voor hulleself. Hulle teer op allerlei bygelofies, loer gereeld oor hul skouer om te sien watter god agtervolg hulle dié keer. Hulle is behep met goddelike straf en vergelding. Hulle lewe van wette en regulasies, “moet” en “moenie” is hul gunstelingwoorde.

Mense wat liefhet, weet daar is net een God. Hy is die Gewer van alle goeie gawes, juis ook ál ons kos en drank. Hy het net een wet: Wees lief vir My, jul God en Heer, en wees lief vir mekaar.

____________________

Here, ek weet liefhê is die slimste ding wat ek kán doen. Help my hiermee, asseblief!

Uit die beek 2018

Подняться наверх