Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 44

Dinsdag 6 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 147:1-2, 7-11

Оглавление

Ons sing oor U!

Dit is die Here wat … die verstrooides van Israel bymekaarbring (v. 2).

Die ou Godsvolk se ballingskap was vir hulle in meer as een opsig ’n krisis, boonop ’n skynbaar nimmereindigende een. Dit het hulle geslagte lank stom gelaat, en in hul godsdiensbeoefening diep geraak. Want: “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?” (Ps 137:4).

Nee, hulle het nooit vergeet dat hulle vreemdelinge in ’n ver land was nie, en die blote gedagte aan Jerusalem was vir hulle pynlik. Maar dikwels ook ’n kosbare herinnering, ’n aansporing om deur te druk. Dan roep hulle die ou stad aan: “As ek jou sou vergeet, Jerusalem …” (Ps 137:5.)

God het hulle onthou. Hy was immers die Een wat hulle uiteindelik sou terugneem om Jerusalem te herbou. Dit is Hy wat hulle bymekaar sou maak soos ’n herder sy verstrooide, verskrikte skape. Hy sou hulle terugbring na waar hulle geslagte lank gewens het om te wees.

Nóú sal hulle vir Hom wou sing. Uiteindelik – die Here se lied! Hulle is nou tuis.

Só herinner hierdie ou lied ons vandag steeds aan minstens twee van die Here se genadegawes waarsonder ons nooit sou oorleef nie, nie wanneer ons ver is nie, ook nie wanneer ons uiteindelik tuisgekom het nie. En beslis nie wanneer ons vertrek of op pad terug is nie: Hy is die Een wat sy kinders naby Hom hou, teenaan sy hartklop.

Én Hy onthou hulle altyd, al pas dit hulle dikwels om Hom te vergeet.

____________________

Here, U hou ons onder u vlerk, ook wanneer ons probeer ontsnap. Ons ken u vashouhande.

Uit die beek 2018

Подняться наверх