Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 64

Maandag 26 FEBRUARIE 2018 Lees Genesis 17:15-16

Оглавление

Naamgewer

“Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara” (v. 15).

Toe kry ook sý ’n nuwe naam, Abraham se vrou. Sarai word Sara. Ook dit is ’n hoorbare teken van God se vaste verbintenis met die Abrahamgeslag. Sy sal immers – só belowe Hy, die Naamgewer – die draer van die belofte wees.

Die verandering van Sarai se naam het dalk ’n selfs breër betekenis as haar man se naamsverandering. Sien, dit was ander tye daardie: ’n Vrou se waarde is gemeet aan hoeveel (manlike!) erfgename sy in die wêreld kon bring. En dit was al. Verder het sy op die agtergrond haar gang gegaan, ongesiens, so geluidloos moontlik. En, sovele kere, in die Ou én die Nuwe Testament, ook naamloos.

Die vroue wat in die Bybel op die naam genoem word, is die uitsonderlikes, die sterkes, dié wie se benoeming wesenlike betekenis tot die vertelling byvoeg. En hier lees ons hoe een wie se naam wel genoem word, herbenoem word. Niemand minder nie as God gee haar ’n nuwe naam.

Wat was so uitsonderlik aan haar? Wat kan ons, die latere lesers van hierdie ou verhaal, oor Sarai/Sara sê? Onder meer sekerlik dat sy haar slavin bitter sleg behandel het (vgl. Gen 16:6); dat sy God uitgelag het (vgl. Gen 17:11); dat sy vir Hom probeer lieg het (vgl. Gen 17:15). Kwalik ’n bron van inspirasie …

Maar God het haar lief. Hy sonder haar uit. Hy maak haar meer en groter as wat sy ooit kon wees. Dit is maar sy manier, hierdie Naamgewer. Dit is hoe Hy met hulle maak wat sy Naam willens en wetens weggooi. Hy maak sondaars God se kinders. Hy het ’n groter plan met hulle as wat hulle ooit sou kon raai.

____________________

Ook ek is die naam van kind nie werd … Maar U sien ver, oneindig ver.

Uit die beek 2018

Подняться наверх