Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 65

Dinsdag 27 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 22:23-25

Оглавление

Dankiesê

Die nood van die hulpelose het Hy nie

… gering geskat nie … (v. 25).

Dit was van altyd af die roepende Godskinders se vernaamste begeerte: dat God hulle hoor wanneer hulle Hom roep. Dat Hy hul nood ernstig opneem. Dat Hy só ernstig daaroor voel dat Hy daadwerklik ingryp.

Klaarblyklik is dit wat hier gebeur het – en daarom, sê die digter, sal hy sing. Hy sal sy triomfantelike getuienis voor almal lewer, hy sal sy lof aan God voor die hele gemeente bring. Want God het gehoor; Hy het nie gedink dit is niks nie.

Ja, gelowiges is gou om te roep. En meestal verwag hulle ’n spoedige antwoord. Onmiddellik selfs.

Hulle is wel nie almal ewe flink met hul dankbetuiging nie. En dankiesê, veral as dit in die openbaar moet wees, word soms ’n tameletjie. Almal sê mos nie op dieselfde manier “halleluja!” nie. Daar is dié wat dit stilweg en verkieslik met ’n geboë hoof wil doen; daar is ander wat dit arms-in-die-lug uitjubel.

Wie doen dit reg? Dié wat hul “prys die Here!” met blye galme die wêreld instuur, of hulle wat ’n skamele dankie in ’n mineurtoonaard prewel? Wie is reg, die loof-Hom-met-die-tromme-troepe of die saggies-en-teer-hakkelaars?

Wie is reg? God is reg, in alles wat Hy doen. In sy oë wat ons raaksien en in sy ore wat ons hoor. In die verhoring van ons gebede en in die tydsberekening van sy ingrype. Hy is altyd gereed om ons lof te ontvang, die jubeling én die stameling. Hy het nie ons lof nodig nie; Hy weet wel ons behoort dit te doen. Maar Hy weet ook dankiesê is nie ons sterkpunt nie.

____________________

U hoor ook my lof, Here! U weet dit kom diep uit my dankbare hart en my gesalfde siel.

Uit die beek 2018

Подняться наверх