Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 66

Woensdag 28 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 22:26-32

Оглавление

Almal moet weet

Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag (v. 31).

Dankiesê is veel meer as ’n privaat gebed of ’n openbare gedruis. Dit is ’n daad, of ’n reeks dade. Dankbaarheidsdade. Dankiesê is eintlik dankiedoen.

Die psalmdigter weet dit alte goed, en daarom maak hy hom gereed om sy belofte aan die Gebedsverhoorder na te kom: Daar sal ’n offermaaltyd wees, ’n dankoffer-ete. Hier, waar almal kan sien en hoor en aansit en eet, sal hulle dit feestelik vier: Die Here het gehoor; Hy sorg; Hy verlos. Kom ons eet en drink daarop!

Dit is ’n getuienismaaltyd vir klein en groot, vir arm en ryk. Die naklanke hiervan sal steeds verder en verder uitkring totdat almal sal weet: Die Here is die Koning van die konings.

Só vestig Hy sy ewige majesteit hier by sy brose kinders. Hulle sal tussen die ete-en-drinke deur Hom vir sy voorsienigheid vereer. Hy sal dit goed vind en hulle sal altyd onthou waar alles vandaan kom.

Wat is daar dan nóg wat die koninkryk se kinders te doen staan, behalwe om hul Here se goedheid te ontvang en voluit te geniet en Hom met oorgawe daarvoor te dank?

Hulle moet daaroor praat. Hard en aanhoudend. Hulle moet dit in hul doen en late wys, sodat hul kinders en dié se kinders met iets van hierdie refrein kan grootword: Die Here is goed. Die Here sorg. Hy verhoor. Hy verlos.

____________________

Ek ken U van kindsbeen af, Here. Ek dank U vir hulle wat my destyds van U geleer het, en vir hulle wat my elke dag wys hoe die Here se kinders Hom dank.

Uit die beek 2018

Подняться наверх