Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 69

Vrydag 2 MAART 2018 Lees Markus 8:31-38

Оглавление

Wat mense wil hê

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg …” (v. 34).

Petrus reken dat Jesus se lydensweg totaal onnodig is. Jesus maak hom stil en noem hom selfs “Satan” (v. 33), die een wat net sê wat mense wil hoor.

Jesus stippel die gevolge van sy lydensweg uit en spesifiek hoe dit hulle, sy volgelinge, sal raak. Die tyd vir glans en gewildheid is nou verby. Hiervandaan is dit die hele pad afdraand, Jerusalem toe, Golgota toe. Dié wat op hierdie pad agter Hom wil aankom, moet weet hulle sal ’n kruis dra.

Dit is klaarblyklik nie wat Petrus en sy makkers wou hoor nie. Hulle volg Hom dan op ’n triomftog: Hy genees siekes; Hy doen wonderwerke; Hy trap die hoogheiliges uit; Hy vertel die vreemdste stories oor God se koninkryk. Nou kom Hy met ’n storie oor lyding, oor verwerping, oor doodgaan. Hulle wil dit nie hê nie. Hierdie verhaal kan tog nie só verloop nie!

Maar dit sou. En die meeste volgelinge sou die pad te swaar vind. Hulle sou teleurgesteld omdraai. Terugkeer na hul ou, bekende weë. Na veiligheid, voorspelbaarheid. Na stilbly en stilsit. Na die gedweë toekyk hoe Gods water maar oor Gods akker loop.

Nee, die pad agter Hom aan is heeltemal te steil. Die kruis is loodswaar. En selfverloëning? Hoekom? Ek is mos wat ek is.

Dit alles word vandag nog gesê en gedink. Wat mense van Jesus wil hê, is dikwels onversoenbaar met wat Hy van hulle wil hê. Hy het van die begin af gesê: “Volg My!” Dissipelskap, dus. Dit is wat Hy wil hê. Maar dan dié soort wat vir die meeste potensiële volgelinge te duur is.

____________________

Jesus, U gaan voor. Ons huiwer, weifel, op u spoor.

Uit die beek 2018

Подняться наверх