Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 70

Saterdag 3 MAART 2018 Lees Markus 9:2-9

Оглавление

Op die berg

Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou …” (v. 5).

Petrus word, ten spyte van sy ellendige fout ses dae tevore, deur Jesus bergop geneem. Saam met twee ander uitverkorenes, Johannes en Jakobus, sou hy op daardie berg dinge sien en hoor wat sy verstand, en almal s’n wat later daarvan verneem het, te bowe sou gaan. Hy sou so verskrik wees dat hy dinge sou sê waaroor hy nie helder gedink het nie.

’n Mens kan Petrus nie hiervoor verkwalik nie. Kyk net wat hy alles moes sien, hoor daardie stem! Geen wonder hy praat so gou en so baie nie.

Buitendien was Moses en Elia se wonderverskynings en Jesus se glansende gedaanteverandering en, les bes, die Goddelike stem ’n duidelike terugkeer na die triomfantelike roete waarlangs Jesus sy uitverkorenes sou lei – of hoe? Vergete is die somber vooruitsigte van ’n week gelede. Hier is beslis nie sprake van ’n uitmergelende roete nie. Hiér kan hulle vertoef, verhewe en verheerlik.

’n Aantreklike vooruitsig, nie waar nie? Beslis verkieslik bo ’n kruisweg. Maar dit was bloot ’n tussenspel, ’n herinnering aan presies wie Jesus is. En hierdie drie volgelinge was bevoorreg om dit te kon aanskou.

Die pad agter Jesus aan het sulke hemelse hoogtepunte, sal al Jesus se volgelinge weet. Uiteindelik blyk dit egter dat sulke bergtop-belewenisse maar skaars is. Daar is ook donker dieptes, dale van doodskaduwee. Goddank, ook hierin gaan Hy hulle vooruit. Draai Hy dikwels om, tel Hy hulle op. En dra Hy hulle verder.

____________________

Here, hoe helder is u teenwoordigheid in ons lewe! Juis ook in die stikdonkerte.

Uit die beek 2018

Подняться наверх