Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 76

Vrydag 9 MAART 2018 Lees Johannes 2:13-17

Оглавление

Skoonmaaktyd

Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my” (v. 17).

Dalk is dit omdat Jesus se optrede hier so vreemd was. Verbeel jou: ’n sweep! Dalk is dit omdat die woedende spektakel so grafies geteken word. Hy smyt die geldwisselaars se geld op die grond, keer boonop hul tafels om.

Hoe ook al. Dié klompie verse wat vertel hoe Jesus die tempel en die aangrensende plein “skoongemaak” het, word met groot smaak oorvertel en aangehaal. Dikwels deur gelowiges wat op die een of ander manier húl woede oor ’n saak wil regverdig met iets soos: As Jesus so kwaad geword het, dan kan ek mos ook …

Pleks dat diésulkes verder lees oor die dissipels se latere besef van die liefde vir die Vader se huis. En Jesus se eie regverdiging vir sy optrede: “Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie” (v. 16). Die ander drie Evangelieskrywers onthou boonop dat Hy ’n veel sterker woord – “rowersnes” (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46) – gebruik het.

Motiewe verklap alles. En Hy wat tot in mense se hart sien, weet hoekom hulle doen wat hulle doen. Hy oordeel nie gunstig oor die diensverskaffers op die tempelplein nie, waarskynlik omdat hulle die tempelgangers uitgebuit het. Daarom reinig Hy die omgewing van hul soort.

Nee, dié optrede regverdig nie gelowiges se woede en geweld nie. Jesus se boodskap is duidelik: Jy vergryp jou nie aan die Vader se kinders nie. Juis nie as hulle afhanklik is van jou, die kerkmens, se diens aan hulle nie.

____________________

Here, U bring dikwels mense oor u kerk se drumpel wat verleë wag op ons, u kinders, se aandag. Leer ons hoe om te maak. Leer ons u wil vir hulle en vir onsself.

Uit die beek 2018

Подняться наверх