Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 71

Sondag 4 MAART 2018 Lees Eksodus 20:1-11

Оглавление

Vrygemaak!

“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte,

uit die plek van slawerny, bevry het” (v. 2).

Dit is Hy wat hier praat, die God van bevryding. Daarom is daar geen kwessie nie: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (v. 3).

Dit sou die deurlopende tema vir die eerste vier gebooie bly: Daar is geen ander God nie. Moenie dink jy kan ’n boomstomp netjies kerf of ’n klip glad skuur en dit God noem nie. Dit sal nooit God wees nie, dit kan onder geen omstandighede God word nie.

Daarom mag jy nie Hy-wat-God-is se Naam vir jou en jou agenda toe-eien nie. Nee, sy Naam is heilig en nie ’n gebruiksartikel om krag aan jou gebrekkige, bloedarmoedige woordeskat toe te voeg nie. Dit is nie ’n sweerformule om gesag aan jou argumente te verleen nie. Sy Naam is nie ’n mantra om guns te wen en aansien te verwerf wanneer jy dit oral rondstrooi om ander te beïndruk of om jou eie bygeloof te voed nie.

Moet tog nie vergeet wie Hy is en wat Hy vir jou doen nie. Sy immer-teenwoordigheid in jou lewe is ’n durende, onvermengde seën. Erken dit, onthou dit en vier dit. Elke dag. Wees dankbaar as jy in die situasie is waar jy ’n hele rusdag in die week tot jou beskikking het om juis dit te doen. Laat jou doen en late op daardie dag sê: Dankie, Here, vir u sorg!

Die boodskap van hierdie gebooie is eenvoudig: Die enigste God het jou vrygemaak. Ook van jou beheptheid met mense se goedkeuring en besittings se suigkrag. En van jouself. Eer Hom daarvoor, ook deur jou in godsnaam nie weer te laat verslaaf nie.

____________________

Ek is u vrygemaakte kind. U is my Vader. U sorg dag na dag. Ek eer u Naam.

Uit die beek 2018

Подняться наверх