Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 74

Woensdag 7 MAART 2018 Lees Psalm 19:8-15

Оглавление

Die woord van die Here

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe (v. 8).

Dit is geseënde mense wat hul vreugde en vrede in God se woord vind. Hulle hoor duidelik as Hy daaruit met hulle praat. Hulle het geleer om fyn te luister.

Hulle weet ook dat niks hieraan vanselfsprekend is nie. Hulle is, inteendeel, terdeë daarvan bewus dat dit ’n onbeskryflik groot genade is om God se stem só te mag hoor. Dit is nie almal beskore nie.

Hulle kan hulle vereenselwig met die psalmdigter se sterk uitsprake oor die Here se opgetekende woord, met woorde soos “volmaak”, “betroubaar” (v. 8), “helder” (v. 9), “goed” en “reg” (v. 10). Soos die digter, weet hulle ook dat die woord van die Here lewe gee, dit bring wysheid, dit dui die regte koers aan, dit gee insig. Boonop staan dit altyd vas.

Maar dalk is dít die belangrikste uitwerking wat hierdie woord op die lesers daarvan het: Die Here se dienaars laat hulle daardeur leer. Op hierdie manier besef hulle dat hulle nie alle wysheid in pag het nie. Dat soveel dinge, ook in hulleself, steeds vir hulle verborge is. Só leer dit hulle beskeidenheid, afhanklikheid, iets van hul eie broosheid. Die voorlopigheid van hul verstaan.

Só dryf die woord hulle terug na God, soos dit sekerlik hoort. Nadat hulle Hom aangehoor het, lui hul gebed uiteindelik só: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here …” (v. 15).

Inderdaad: Aan die Here se woord word ons woorde en gedagtes gemeet, geweeg. En deur hierdie Woord word ons reggehelp.

____________________

Here, ek hoor U skaars; my ore is so toe. Praat tog hard en duidelik met my. Help my reg.

Uit die beek 2018

Подняться наверх