Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 68

Donderdag 1 MAART 2018 Lees Romeine 4:13-25

Оглавление

Geloofsheld

Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo … (v. 18).

Prysenswaardig, Abraham se geloof. Volgens Paulus is dit die rede vir die vryspraak wat dié ou vader-van-vele van God ontvang het.

Dit is wonderlik om weer eens te hoor, hard en duidelik, dat die onderhouding van Moses se wette nie jou saligheid bewerkstellig nie. Dat “geloof” en “genade” (v. 16) in een asem genoem word. Dat die Godsbelofte aan die gelowige Abraham ook vir latere geslagte gelowiges sou geld.

Hoe allertroostend om te weet dat daar hoop anderkant hoop is. Dat dit dalk juis hierdie volgehoue hoop-ten-spyte-van is wat “geloof” genoem word. ’n Geloof wat ons vryspreek van al ons oortredings.

Ook maar goed so. Vir ons, en vir Abraham. Want sy persoonlike geloofslewe was nie onbesproke nie. Inteendeel. Ons weet mos presies hoe effens óns geloof is, hoe broos, hoe maklik dit onder die geringste druk padgee.

Abraham sal ons boonop kan vertel van Hagar, sy vrou se slavin. Hoe hy, toe God te lank na sy sin talm, sake in eie hande geneem het. En voorspelbaar genoeg toe nie te goed gevaar het nie.

Nee, ons is nie juis kampioengelowiges nie. Abraham was straks ook nie een nie. Tog word hy deur die Bybelskrywers as ’n geloofsvoorbeeld genoem. Dit help ons, al leer die Bybelverhale ons dat hy ook ’n voorbeeld van feilbaarheid is. Want nou weet ons immers dat God se genade groter as ons geloof is. Dat sy verbysterende volharding met ons alle verstand – en ons én Abraham se wankelrige geloof – te bowe gaan.

____________________

Ek glo, Here. Kom tog my kleingeloof te hulp!

Uit die beek 2018

Подняться наверх