Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 83

Vrydag 16 MAART 2018 Lees Johannes 3:14-17

Оглавление

Redder

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …” (v. 16).

Hierdie bekende (die heel bekendste?) vers in die Bybel kom uit die mond van daardie einste Seun. In sy naggesprek met Nikodemus, die Fariseër en lid van die Joodse Raad, gaan haal Jesus sy geduldige verduideliking ver, tot uit die Eksodusverhaal en die ou trekvolk se ellendige lot toe hulle vir hul halsstarrige sonde geboet het.

Maar toe maak Moses in opdrag van God ’n noodplan, herinner Jesus dié geleerde man wat daardie ou, ou genesingsverhaal so goed ken. ’n Plan wat baie se lewe sou red. Hulle moes bloot geleer word om óp te kyk, dan sou hulle lewe.

Nou, voeg Jesus by, het God in hierdie nuwe geskiedenis vol verdorwenheid weer ’n plan gemaak, ’n ander plan. En, ja, Nikodemus, jy kyk nou na Hom. Ek is daardie Ander Plan. Kyk net op, kyk na My, en jy sal lewe.

Só lyk God se liefdesdaad vir hierdie wêreld wat Hy met soveel sorg gemaak het. Die skepping met sy skepsels wat so erg onder selfvernietiging deurloop dat daar byna geen hoop meer vir hulle en hul wêreld is nie. Soos die ou volk is dié nuwe bedeling ook klaar met die wêreld.

Maar, sê Jesus aan Nikodemus, moenie bang wees nie. Julle sal nie verlore gaan nie. Ek heet ook Nuwe Hoop. My Naam is Geen Veroordeling. Ek is die Redder vir jou en jou wêreld. Ek gee die lewe in oorvloed, tot in ewigheid. Ek het julle lief.

Glo julle My?

____________________

Ek glo, Here! U is my lewe. U leer my om op te kyk, na waar my hulp vandaan kom.

Uit die beek 2018

Подняться наверх