Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 75

Donderdag 8 MAART 2018 Lees 1 Korintiërs 1:18-25

Оглавление

Wondertekens en onsin

Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin … (v. 22-23).

Niks het ook verander nie …

In Paulus se tyd het die Jode gevra na God se wonderwerke – en wanneer hulle dit nie gesien het nie, het hulle belangstelling verloor. Deur die eeue was dit by baie mense die geval, wêreldwyd. Is dit steeds so: Groot wonderwerke (of gerugte daarvan) lok groot skares, maar as dit nie ’n groot genoeg skouspel na hul sin is nie, draai hulle onvergenoeg om en gaan soek na méér.

Destyds het die Grieke groot klem op redevoering en slim uitsprake gelê – en wanneer hulle dit nie gevind het nie, het hulle verder gesoek. Deur die eeue was dit by baie mense die geval, wêreldwyd. Is dit steeds so: Kennis is koning! Bewysbare inligting is al wat tel, die res is bewysbare onsin. Of hoogstens ’n filosofiese of esoteriese gebabbel.

En eintlik, sê Paulus, verkondig hy en sy koninkryk-medewerkers bloot die gekruisigde, gebroke Christus. Ja, gee hy toe, dit is ’n enorme teleurstelling vir dié wat ’n wonderwerker soek. En ’n foeitogfabel vir hulle wat tot elke prys wil weet hoekom dit moes gebeur, ás dit hoegenaamd gebeur het.

Vir ons, sê Paulus, is die gewonde Geneser die grootste troos in lewe en in sterwe. Sy krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is. En wanneer Hy ons ongeloof te hulp kom, is daardie genade vir ons genoeg.

____________________

Here, my krag en my sterkte, u genade maak my lewe sinvol. Ek leef in die greep van u goedheid.

Uit die beek 2018

Подняться наверх