Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 46

Donderdag 8 FEBRUARIE 2018 Lees 1 Korintiërs 9:16-23

Оглавление

Net soos U wil

Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie,

het ek my aan almal diensbaar gestel … (v. 19).

’n Vrywillige verkondiger van die evangelie, sê Paulus van homself. Hy sê hy het die drang om “soveel mense as moontlik vir Christus te wen” (v. 19). Daarom voeg hy by: “Vir almal het ek alles geword om … sommige te red” (v. 22).

Entoesiasties soos min, hierdie Paulus. Totaal opgeneem in die taak wat hy op sy skouers geneem het. Om dit te verstaan, help dit ons om iets van sy agtergrond te onthou. Van die bloeddorstige ywer waarmee hy destyds die Jesusvolgelinge gejag het. Die oorgawe waarmee hy hom in die Joodse godsdiens ingewerp het. Só beskryf hy self die destydse Paulus: “Ek … was ’n fanatieke yweraar …” (Gal 1:13-14).

Dalk is hierdie besetenheid (vgl. Hand 9:1) die rede waarom die Here hom uitgesoek het om sy werk te doen. Sulke energieke mense beteken dikwels baie vir God se koninkryk.

Maar die grootste wonderwerk in Paulus se verhaal is dat die Here dit reggekry het om hierdie klipharde, gedrewe man se hart sag te maak. Om hom sover te kry om vir die swakkes swak en vir almal alles te word (vgl. v. 22).

Dit is nie jou onvermoeide ywer wat jou ’n bruikbare instrument in God se hande maak nie; dit is die soepel manier waarop jy in daardie sagte hande pas. Waar jy gevorm en gemaak word om sy wil te doen. En van waar jy gestuur word met sy opdrag in jou binnesak, teenaan jou hart.

____________________

Hier is ek ook, Here. Kyk tog dat ek in u hande pas, asseblief! Gebruik my dan.

Uit die beek 2018

Подняться наверх