Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 43

Maandag 5 FEBRUARIE 2018 Lees Jesaja 40:25-31

Оглавление

Hier is ek ook

Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? (v. 27).

Hieroor is daar geen twyfel nie: God se grootheid is ver bo ons hoogste denke verhewe, en sy goedheid is oneindig beter as ons mees fantastiese verbeeldingsvlug.

Kyk net boontoe! Sien jy die sterre? Het jy hulle al probeer tel?

As jy dit al reggekry het, kan jy moontlik ’n idee van God se grootheid en goedheid begin vorm. Voor dán weet jy niks. En praat maar eerder so min moontlik. Dit pas jou die heel beste om bloot op te kyk en te sê: Hoe groot is U! Hoe goed is U!

Ja, jou klagtes is voortydig. Kinderagtig en goedkoop. Dit is bloot op die bevrediging van jou eie begeertes gerig. Ag, en hoe sal die Here jou dan nie raaksien nie? Jy weet mos hoe is Hy.

Hy sien tot in die fynste besonderhede. Hy hou aan om na jou te kyk, selfs nadat jy lankal moed opgegee het. Hy help jou nie net wanneer jy gehelp wil word nie. Hy sien verder as dit, Hy weet beter.

O, en Hy word nie moeg om goed te wees nie. Daarvoor is sy arms te wyd oop. Sy Seun sou mos baie later uitroep, uitnooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28).

Ook julle wat jonk is. Ja, juis julle wat nie veronderstel is om te val nie. Kom, Ek sal julle ophelp, sê Hy en steek sy hand uit. En kyk net wat gee Ek julle! Vlieg hoog, my kinders!

____________________

Grote God, goeie Here! Hier is ek ook. Tel my op, asseblief. Kyk hoe moeg is ek.

Uit die beek 2018

Подняться наверх