Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 32
Vrydag 26 JANUARIE 2018 Lees Psalm 62:5-13
ОглавлениеWie is ék dan?
Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks (v. 10).
Ons moet dit maar weer ’n keer hoor: Die Here is die rots van ons behoud, ons toevlug in ’n tyd vol benoudheid. Die ruspunt van ons hart.
En ons? Ons is minder as niks. Sonder gewig of gewigtigheid. Sterflik. Stof. As die briesie opkom, waai ons weg.
Waarom sal Hy Hom dan verwerdig om na ons te kyk, om selfs ’n tweede keer na ons te kyk? Waarom sal Hy ons toelaat om by Hom te kom skuil? Ons aanhoor as ons ons hart voor Hom uitstort? Ons trane afvee?
Wie is ék dan, korreltjie niks, dat Hy Hom oor my ontferm?
Ek is Syne, leer hierdie psalmdigter my, en met my maak Hy wat Hy wil. En Hy wíl na my kyk. Meer: Hy sien om na my. Hy sorg vir my. Hy laat my voor Hom huil, kla, wanhoop. Hy hou my in sy greep.
Deur dit alles leer Hy my dat my vertroue op Hom die regte ding was om te doen. Dat my langdurige soeke na ’n toevlug my uiteindelik by die regte adres uitgebring het. Daar is eenvoudig geen ander skuilplek nie.
Ek verstaan dit, want ek het al ander uitweë gesoek. En my liederlik vasgeloop. Want mense wil tot die laaste druppel bloed hê; hul hulp is nie onvoorwaardelik nie. “Uithaal en wys!” sê hulle. “There is no such thing as a free lunch.”
By Hom is dit totaal anders. Hy voed en versterk. Hy bewaar en beskerm. Ek is Syne. Hoeveel keer moet ek dit nog hoor voordat ek dit glo?
____________________
U is my Vader, ek is u kind. U is my rots,
in U is ek tuis. Ek prys u Naam.