Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 33

Saterdag 27 JANUARIE 2018 Lees Jona 3:10

Оглавление

Hy verander van plan

Hy het nie die ramp gestuur nie (v. 10).

Sou dit inderdaad Jona se treffende prediking gewees het, soos ons ’n klompie dae gelede gereken het? Of was dit bloot die koning – van almal! – se bekering? Die stad se mense (en diere) wat hul leier in verootmoediging volg?

Waar sal ons die rede vind vir die nuwe moontlikhede wat daar eensklaps vir Nineve en sy koning en die gewone mense en hul diere aangebreek het? Want God het afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor Nineve sal bring. Om dit kort te stel: Hy het van plan verander.

Sjoe! Is Hy dan nie die Standvastige nie? Die Rots van die Eeue? Heet Hy nie Onveranderlik nie? Is sy Naam dan nie Onbeweeglik nie?

Nie as Bybellesers Jona se verhaal ernstig opneem nie. Oplettende lesers sal hierdie vreemde eienskap van God ook in Hosea 11 opmerk. Ag, en sommer reg aan die begin, by die eerste mens, vir wie Hy waarsku om nie van dáárdie boom te eet nie, anders sterf hy. Toe eet hy mos, daardie Adam, en hy bly leef en God kom soek hom op om met hom te praat.

Gelowiges deur die jare heen aanbid ’n God wie se liefde vir sy kinders sterker is as sy teleurstelling, selfs woede, oor hul ongehoorsaamheid. Hy kan dit nie oor sy hart kry om hulle te vernietig nie, sê Hy in Hosea 11, al het Hy gesweer Hy sal.

Hy verbreek dus sy wraakbeloftes wanneer sy liefdeshart breek, hierdie God. Hy is immers nie ’n mens nie. Hy doen wat Hy wil. En Hy wil liefhê.

____________________

Ek verstaan so min van U. Maar in dié soort deernis glo ek met my hele hart. Ek kan nie anders nie.

Uit die beek 2018

Подняться наверх