Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 41

Saterdag 3 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:23-28

Оглавление

Wat gaan hier aan?

En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat (v. 28).

Wat moet gebeur voordat mense oor Jesus begin praat? In Kapernaum se kerk het dit ’n skouspelagtige gedoente gekos – ’n besete man, ’n bose gees, ’n geskreeu en stuiptrekkings. Die onvermydelike ontsteltenis: “Wat gaan hier aan?” En verwonderde uitroepe: “Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag!” (v. 27). Selfs boosheid gehoorsaam hom!

Wat gaan hier aan?

Eenvoudig: Jesus van Nasaret het kerk toe gekom. En in daardie sinagoge sou dinge nooit weer dieselfde wees nie. Lank hierna sou mense nog hieroor praat, soos mense maar praat oor opspraakwekkende dinge wat in die kerk plaasvind.

Hulle het hieroor gepraat, ja, al was hulle nie seker met wie en wat hulle hier te doen gehad het nie. Dit is tog interessant dat daar by die rasende gees geen twyfel was nie. Dat boosheid, van alles, Hom herken het vir wie Hy is: “Ek weet goed wie U is; U is die heilige van God!” (v. 24).

Die apostel Jakobus sou natuurlik later bevestig dat boosheid heelwat van God weet (vgl. Jak 2:19). En dalk sou dié ironie die ander Jesusvolgelinge ook op ’n dag tref: Toe die boosheid in die sinagoge (van alle plekke!) ontbloot word, het die kerkmense nie ’n enkele vraag oor dié se teenwoordigheid daar gevra nie. Hulle was te besig om oor Jesus se optrede te redeneer.

____________________

Here Jesus, wanneer ek hier lees, vra ek my af: Wat sien en hoor ék in die kerk? En waaroor gaan praat ek dan as ek buite kom? Wat weet ek werklik van U?

Uit die beek 2018

Подняться наверх