Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 24

Donderdag 18 JANUARIE 2018 Lees 1 Korintiërs 6:12-20

Оглавление

Niks minder nie

Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? (v. 15).

My lyf, wat deur God gevorm is nog voordat ek gebore is, behoort aan Hom. Ja, hierdie liggaam is deel van Christus. Dit is niks minder nie as ’n tempel van die Heilige Gees.

Dít is Paulus se oortuiging. Hoekom sal enigiemand dan daarvan wil verskil? Ons bring soveel tyd voor die spieël deur, sit ure om in ’n dokter se spreekkamer – moeite, geld, kommer en vrees, en dit oor ons lyf?

Dit kan nie, mág tog nie anders wees nie. Ons beywer ons immers vir niks minder nie as ’n liggaam wat aan Christus behoort, bemoei ons met die tempel van die Heilige Gees.

Elke keer as ons die lyf wat aan ons gegee is, verwaarloos of skend of geringskattende uitsprake moet aanhoor (of sélf maak!) oor dié ou liggaam wat ons het, bemors ons iets wat groter is as ons self. Telkens as ons hierdie lyf oorgee aan allerlei luste en belustighede, maak ons Christus en die Gees goedkoop. Paulus sê: Dán vergryp jy jou aan jou eie liggaam en dus aan God.

Dit pas ons om tyd voor die spieël en op die skaal deur te bring, om moeite te doen met gesondheidkenners se aanbevelings en dokters se opdragte. Om dikwels na te dink oor wat ons eenheid met die Here beteken. Om goed te besef wat dit Hom gekos het, sodat ons nie ons eenwording met ’n ander mens goedkoop maak nie. Die tempel van die Heilige Gees word nie uitverhuur nie en is onder geen omstandighede teen ’n afslagprys beskikbaar nie.

____________________

My lyf behoort aan U, Here. Leer my om uit respek vir U goed daarna te kyk.

Uit die beek 2018

Подняться наверх