Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 23

Woensdag 17 JANUARIE 2018 Lees Psalm 139:13-18

Оглавление

U het my gevorm

U het my al gesien toe ek nog ongebore was … (v. 16).

“Kyk, dáár klop die hartjie!” sê die slim dokter en wys met sy vinger na die presiese plek op die skerm. Nét daar begin die lewe – vir die kleinding, vir die mamma en die pappa, die oumas en oupas, die dokter wat nege maande lank die nuwe lewetjie met ’n arendsoog sal dophou. En vir die glimlaggende God, die Skepper van daardie lewe.

Nege maande lank sal die fetus se groei versigtig gemonitor word. Elke nuwe mylpaal sal met blydskap uitgewys en gevier word, deur ouers, grootouers en medikus. En deur God, wat met besitlike liefde oor sy kleine skepsel waak.

Sy kosbare kleintjies is gedurig in God se gedagtes, sê die psalmdigter. Hy dink sonder ophou aan hulle wat vele verwagtings met hulle saamdra en soveel drome verteenwoordig. Dit is immers Hy wat daardie drome geskep het en wat hierdie blinkoog-ideale dag ná dag voed.

Hy is hul lewenslange Oppasser, hierdie Here. Hy vorm hulle na sy hand. Hy maak hulle weer heel wanneer hulle in hul brose bestaan aangetas word. Wanneer die meedoënloosheid van die lewe daarin slaag om hulle te breek, of dit met die verloop van die jare regkry om hulle te verniel, staan Hy by hulle. Ja, Hy is elke dag daar, al sien hulle Hom skaars. Al wonder hulle dikwels oor Hom en al vra hulle aanhoudend vrae wat hul kleingeloof verklap.

Hy hou sorgvuldig boek van hul kom-en-gaan, hierdie Skrywer van hul lewensverhaal. Hulle is vir Hom kosbaar – en Hy sê dit dikwels, in die vertroue dat hulle Hom tog sal glo.

____________________

Ek is u handewerk, Here, en ek weet ek word deur U gekoester. Dit maak my só bly!

Uit die beek 2018

Подняться наверх