Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 26

Saterdag 20 JANUARIE 2018 Lees Psalm 139:13-18

Оглавление

In u gedagtes

Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God … (v. 17).

Wanneer jy hierdie klompie verse binne enkele dae ’n tweede keer lees, neem dit jou gedagtes dalk ’n entjie verder – hierdie keer verby die wonder van God se hand in jou vorming tot anderkant sy daaglikse sorg. Tot by sý gedagtes, wat op stuk van sake nie óns gedagtes is nie.

Nee, ons het nie ’n idee wat en hoe sy gedagtes is nie; ons kan ons dit in ons wildste drome nie voorstel nie. Hy is God, die Gans Andere, en ons is doodgewoon. Goed gemaak, ja, en boonop nie so laat staan nie. Maar van sy gedagtes weet ons omtrent niks.

Ons weet wel, só sê die verwonderde psalmdigter, dat ons ’n ereplek in daardie gedagtes het. Is dít nie al wat ons ooit hoef te weet nie? Is dit nie genoeg nie, vir tyd en ewigheid?

Die Here dink aan my! Halleluja! Die Here dink aan my! Prys sy Naam!

O, en ons sal wel na verloop van jare uitvind hoe die ideale lyk wat Hy vir sy skepsels koester, en die drome wat Hy vir hulle droom. Hoe Hy namens ons planne maak, struikelblokke van ver af raaksien, deure by voorbaat oopmaak. En dikwels ook tóé, omdat Hy gelukkig van beter weet.

Dit kos ons boonop byna ’n leeftyd om vas te stel dat Hy ons tot in lengte van dae onthou, al vergeet ons Hom so gou. Dat Hy ons op ons naam ken, al gooi ons sy Naam so maklik weg.

Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie – goddank!

____________________

O Genade, onbeskryflik groot! Ek is ’n korreltjie niks. Ek leef onder u vlerk.

Uit die beek 2018

Подняться наверх