Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 40

Vrydag 2 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:21-22

Оглавление

Geloofwaardigheid

Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie (v. 22).

“Gesag” het ’n moeilike woord in die hedendaagse samelewing geword. Om van die kerk nie eens te praat nie. Ons, die gewone mense, sukkel om gesag te aanvaar, en ons sukkel dalk ook met die draers van daardie gesag. Na bewering sukkel die gesagdraers ook maar met ons …

Mense wat met gesag wil praat of so wil optree, moet, volgens ons, darem weet waarvan hulle praat en hulle moet weet wat hulle doen. Die aanhoorders van hul toesprake en redevoerings en preke word nie sommer op sleeptou geneem nie. Die oppervlakkigheid en sommer gewone valsheid kan boonop deesdae nie meer lank weggesteek word nie. En kragdadighede en daadkragtighede beïndruk al hoe minder mense.

Die destydse skrifgeleerdes het dit nie geweet nie, maar hulle kon hul toehoorders ook nie bluf nie. Die meeste het deur hulle gesien. Daardie geveinsdheid, die kamma-vroomheid, die maak-soos-ek-sê-moenie-maak-soos-ek-maak nie. ’n Vrome masker glip maar met verloop van tyd af en lê ’n grynslag bloot.

Daarom was Jesus se prediking so uitsonderlik. Dit was asof die mense wat Hom aangehoor het nie hul ore kon glo nie. Uiteindelik was daar Iemand wat met gesag praat! Een wat nie skroom om valsheid te ontbloot nie omdat daar niks daarvan in Hom was nie.

Hy het tussen hulle geleef en saam met hulle geëet en hulle van God se liefde geleer. Hy het hul taal gepraat, al was dit soms ongemaklik om alles te moes aanhoor. Maar na Hom sou hulle luister, in Hom kon hulle glo.

____________________

Here Jesus, u woorde en u optrede laat geen twyfel nie: U is God by ons.

Uit die beek 2018

Подняться наверх