Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 39

Donderdag 1 FEBRUARIE 2018 Lees 1 Korintiërs 8:7-13

Оглавление

Opofferings

Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie (v. 9).

God se begenadigde kinders, dié wat lankal weet hoeveel dit Jesus gekos het om hulle vry te koop en wat daardie vryheid met oorgawe geniet, kry hier ’n vermaning: Moenie jou medemens wat steeds hiermee sukkel, uit die oog verloor nie.

Sien, daar was mos gelowiges in daardie gemeente in Korinte wat nie so lank gelede nie afgode aanbid het. Noudat God hulle van dié aardige skepsels bevry het, is hulle bly en dankbaar, maar hulle is nog nie heeltemal seker wat hierdie vryheid alles behels nie. As ’n mens grootgeword het in ’n huis waar daar voor afgode gekniel is, kom jy maar moeilik op jou voete. En as jy dan geleer word om voor die ware God te buig, kyk jy dikwels onseker rond: Doen ek die regte ding? Doen ek hierdie nuwe dinge rég?

Dan is daar boonop die vleis wat aan die ou gode geoffer is: Jy kan dit nie verhelp nie, maar dit herinner jou aan die ou dae, die dae van ’n lewelose afgod met dooie oë en ’n kliphart.

Dit is hier, sê Paulus, dat die ervare gelowiges uiters versigtig moet wees. Nee, natuurlik is daar nie ’n ding soos ’n afgod nie en vanselfsprekend is die geofferde vleis bloot vleis – eet en geniet! Maar dink eers aan jou medegelowiges, daardie nuwelinge. Vir hulle is dinge nog nie so klinkklaar nie, en die hele storie met sulke vleis maak hulle nog erg deurmekaar.

Daarom: Los jý ook maar die vleisetery, vir eers. Só help jy hulle.

____________________

Here, leer my elke dag dat liefde ook deernis heet, en begrip, en opoffering.

Uit die beek 2018

Подняться наверх