Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 31

Donderdag 25 JANUARIE 2018 Lees Markus 1:14-20

Оглавление

Dissipelskap

“Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (v. 17).

Toe Jesus sy eerste dissipels geroep het, het Hy nie allerlei groot woorde gebruik nie. Hy het nie die geroepenes met somber, verhewe taal aangespreek nie. Hy het bloot gesê: Kom agter My aan.

Dit is die eerste opvallende feit in hierdie stukkie verhaal. Die tweede, wat hiermee gelyk staan, is die plek waar Hy hulle vra om Hom te volg – hul werkplek. Hiér sou hulle sy beeldspraak oor “vissers van mense” die beste begryp.

Wat presies hulle daarvan verstaan het, sal ons nie weet nie. Feit is, hulle het alles net so laat staan, hul gereedskap, hul mense, en gemaak soos Hy gevra het: Hulle het agter Hom aan gegaan. Simon en sy broer Andreas, Jakobus en sy broer Johannes.

Dit is die eenvoud van dit alles wat die hedendaagse leser aangryp. Die totale gebrek aan vertoon, aan hoogdrama en emosie. Die beskryfde gebeure en gebruikte sinne vloei so naatloos en nugter inmekaar dat ’n mens dit lees asof dit sommerso was, asof alles gebeur het omdat dit so hoort. Asof dit nie ’n reuse-ingryping in vier mense se bestaan was nie. ’n Lewensveranderende omkeer van alles wat in hul wêreld bekend en gemaklik was.

Dit alles is natuurlik wat dissipelskap is: ’n vaarwel-sê aan jou gemaksone, die saaklike aanvaarding van ’n nuwe bestel in jou lewe. Dit is, soos Jesus vir dié viertal gesê het, ’n reis saam met Hom.

Dít is die vernaamste feit in elke roepingsverhaal, dié eenvoudige troos: Ek stap voor, jy volg in my spoor.

____________________

Trap die spoor duidelik, Here! Ek kyk soms so vas in my eie vernaamheid. Ek kies so maklik my eie koers.

Uit die beek 2018

Подняться наверх