Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 36

Dinsdag 30 JANUARIE 2018 Lees Psalm 111

Оглавление

Dommes en slimmes

Wysheid begin met die dien van die Here;

almal wat dit doen, het ware insig (v. 10).

Ons is meesters van ontkenning, juis ook wanneer dit met ons goed gaan. “Ja, maar …” het ons mantra geword. Ons vind allerlei verskonings om nie bly te wees nie. Ywerig haal ons ’n norring klagtes en ’n doodskis vol ontevredenheid saam met ou koeie uit die sloot en paradeer dit voor al wat leef en beef. Met die gepaardgaande plooie om die mond en ’n pyntrek om die oë. Pure martelaar.

Wanneer die psalmdigter dus hier juig en sê hy sal die Here in die samekomste loof, vind ons dit dikwels moeilik om by hom in te val. As ons ’n slag wel daar opdaag, staan ons met ’n mond vol tande en ’n hart vol verontregting. En wanneer die genade, barmhartigheid en vrede van God ter sprake kom en sy verbond met sy kinders bevestig en sy krag in hul lewe voelbaar word, wuif ons dit opsy. Arme, arme ek …

Arme, arme … onnosel ek. Ek besef nie dat ek intussen my eie grootste vyand geword het nie. Dat ek my gesig en my gemoed die gyselaars van my durende onvrede gemaak het nie. Weet ek dan nie dat ek met soveel sieklike swaarmoedigheid nie ander vyande nodig het nie?

Weet ek dan nog nie hoe lyk werklike wysheid nie? Sien ek dan nie hoe die rêrige slimmes, almal swaarkrymense, vreugde in hul diens aan die Here vind nie? Tussen hul trane deur, op hul knieë voor Hom, het Hy dié wysheid aan hulle geskenk. Dit maak hulle die kosbaarste geskenk wat ons, die beswaardes, kan droom om te ontvang.

____________________

Here, kom tog my domheid te hulp! Maak my slim genoeg om U met my hele hart te dien.

Uit die beek 2018

Подняться наверх