Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 42

Sondag 4 FEBRUARIE 2018 Lees Jesaja 40:21-24

Оглавление

U is my alles

Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie …? (v. 21).

Die profeet jubel sy verwondering oor die Skepper uit, én sy verbystering oor die mense se onbegrip van hierdie Grootheid. Hy is groot, sê die Godsman, Hy is hoog! Weet julle dit dan nie? Dan weet julle niks.

Dit is te begrype. Want Hy is daarbo, julle hieronder. Hy sien julle vir die sprinkane wat julle is. En julle ander wat julle so vernaam hou? Hy lag julle uit, Hy skud sy kop oor julle.

Julle is niks. As Hy, wat jul asem aan julle gegee het, net ’n keer effens hard blaas, waai julle skoon weg. Dit sal wees asof julle nooit bestaan het nie. Jul lewe is in elk geval net ’n gedagte lank.

Maar troos julle daaraan: Julle was sý gedagte, van die begin af. Julle leef in die sagte holte van sy magtige hand. Maar as Hy daardie hand toemaak …

Julle moet dit alles weet. Iemand het dit tog al vir julle vertel, dit is lankal reeds aan julle bekend: God is groot! Ken dus jou plek voor Hom. Hy is niemand se speelmaat nie. Niemand skryf aan Hom voor nie en niemand waag dit om iets agter sy rug te fluister nie.

Hy is ook oneindig goed, dit moet julle weet. Dit is tog algemene kennis. Dit is immers Hy wat jou ’n woonplek gegee het. Die tentdoek waaronder jy woon, is Syne. Jy lewe van altyd af van sy ruim genade. En veilig daarbinne.

____________________

Here, ek wil niks hê wat U my nie gegee het nie. En niks wees wat U my nie gemaak het nie.

Uit die beek 2018

Подняться наверх