Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 50

Maandag 12 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 50:1-6

Оглавление

Ontsagwekkend

Ons God kom, Hy bly nie stil nie. Voor Hom uit brand ’n vuur, rondom Hom woed ’n storm (v. 3).

Daar is mense vir wie God maklik in die alledaagse werklikheid sigbaar is. Hierdie gelowiges is waarlik geseënd, want hulle lewe dag en nag in die bewustelike koestering van sy Goddelike teenwoordigheid. Hulle floreer vanweë sy aandag, hulle skuil agter sy breë rug.

Maar daar is ook diegene vir wie God nie ’n eenvoudige werklikheid is nie. Onder hulle is daar dié wat vra dat Hy dramaties in hul lewe en omstandighede moet ingryp. Dat Hy met ’n besliste hand sal regeer en met ’n luide stem sy teenwoordigheid aankondig.

Daarom pas Psalm 50 se eerste klompie verse perfek by laasgenoemdes se verwagting. Hulle verwelkom die skrikwekkende verskyning van die Almagtige. Dit is vir hulle ’n bevestiging van ’n God wat kragdadig optree om sy belange te beskerm. Hulle vind hul troos in die vuis wat Hy vir sy vyande wys.

Dit sal ons baat om nie té meegevoer te raak oor al die dramatiese Godverskynings nie. Die vuur wat voor Hom uit brand en die storm wat rondom Hom woed, kom dalk nader aan jou eie lyf as wat jy gedink het dit sou. God is immers “die regter”, sê die digter in vers 6. En Hy het ’n saak teen sy ou volk, sy eie mense, gehad.

As ék kon kies? God se ontsagwekkende sagtheid, asseblief. Die oorweldigende oortuiging dat Hy altyd by my is. Die rotsvaste wete dat Hy my daarvan weerhou om my eie kop te volg.

____________________

Bly by my, Heer. Vat saggies aan my.

Hou my onder u sorg, teenaan U.

Uit die beek 2018

Подняться наверх