Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 47

Vrydag 9 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:29-31

Оглавление

Sommer so …

Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp (v. 31).

Dit word sommer so terloops vermeld, so asof dit ’n alledaagsheid was, hier reg aan die begin van die Markusevangelie: Petrus se siek skoonma vir wie Jesus genees.

Hulle kom uit die sinagoge, die klomp mense saam met Johannes en Jakobus, en hulle vat koers na die broers Simon Petrus en Andreas se huis. Daar lê die ou dame, siek tot die dood toe, en Jesus hoor daarvan. Toe gaan help Hy haar, genees haar. Sy het opgestaan en hulle bedien.

Sommer so, dié klein episode. So in die loop van ’n gewone dag.

Dít, lyk dit my, gebeur meermale in die Evangelies, en deurgaans in die lewe: God se wonderwerke wat in die alledaagse gang van sake gebeur.

Nie al hierdie werke is so dramaties soos dié waar iemand uit ’n siekbed gehelp word nie. Ja, sommige is wel, maar die meeste gebeur onder ons neus. Daardie keer as jy ’n oomblik wegkyk, die slag as jy nie juis aandag gee nie.

Vir ons skeptiese 21ste-eeuse oë lyk dit dan op ’n haar na soos toeval, soos goeie geluk. Selfs: “Soos die duiwel dit wou hê …”

Vir die desperate bidder wat op ’n antwoord wag en vir die geloofsoë van dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, is daar egter geen kwessie nie: Dit is ’n ingryping van God. ’n Onomstootlike bewys van sy genadige bemoeienis met sy kinders.

Sommer so in die loop van ’n gewone dag.

____________________

Here, u troue liefde bly vir my buitengewoon. Ek verwonder my elke dag oor U.

Uit die beek 2018

Подняться наверх